GEMSBOK-UPINGTON: “Ek dink een van die lekkerste lekkers is om jou pakkie vanaf die uitgewers oop te maak. Dit bly lekker, al is dit nie die eerste keer nie.” sê Mêrie Scheepers, skrywer van Upington.
‘n Valk vir Soutbaai (Mêrie Scheepers) is ‘n splinternuwe roman wat aan die Weskus en deels op Stellenbosch afspeel. Die naam van een van die hoofkarakters is Peregrine, Daar is ‘n soort valk wat ook ‘n peregrine genoem word. Vandaar die naam vir die boek.
“Ek het Peregrine Visser ontmoet toe hy as jong seun van Skanskop Eiland, Keimoes, by my seun, Koot, kom kuier het. Hulle was toe al twee nog op laerskool. Die rare naam het my fassineer en in my onderbewussyn bly lewe totdat ek dit kon gebruik. Vir hulle is dit ‘n familienaam. Sien julle, ‘n skrywer het ‘n geheue soos ‘n olifant en onthou nie altyd net die gawe mense, soos Peregrine, nie,” verduidelik die skrywer van hierdie roman wat oor familiename en erfporsies gaan.
Gun my my droom (Annamarie Scheepers) is ‘n her-druk van een van haar boeke wat reeds in 1995 uitgegee is.
Die verhaal het ook in LANDBOU WEEKBLAD verskyn as ‘n vervolgverhaal met die naam Die Kelderwoonstel.
Al twee die boeke is in ‘n groter lettertipe gedruk. Hierdie grootdruk-boeke is bedoel vir Suid Afrikaanse Biblioteke en word uitgegee deur Hartbees Uitgewers, Swellendam.
Hoewel dit lyk asof ‘n skrywer net af en toe skryf, is hulle eintlik konstant besig om aan ‘n boek te werk. Die ratte vir publikasie van Afrikaanse boeke draai net besonder stadig.
Ander tale se skrywers wag ook lank, maar omdat hulle mark soveel groter is, is die aanvraag vir Engelse boeke baie groter.
Op die oomblik is daar nog ‘n boek van Mêrie wat reeds goedgekeur is en wag om gedruk te word by die uitgewers, plus twee ander boeke wat wag om gelees te word. Veral die een boek, wat ‘n baie lang storie is en ‘n dik boek sal wees, lê nou al vir meer as ‘n jaar by ‘n uitgewer sonder dat dit gelees is.
“Ek het reeds die navorsing vir die volgende boek ook gedoen en het al begin om dit te skryf. Ek kan nie anders as om te skryf nie. Die bekende Petra Muller het by die ATKV Skryfskool in Potchefstroom gesê, ek haal vrylik aan soos ek onthou uit die 1980’s: “’n Skrywer het ‘n wurm in haar kop. Daardie wurm hou aan knaag en kriewel totdat jy nie anders kan as om weer te begin skryf nie.”
Enige een wat belangstel om ‘n kopie van een van Mêrie se “nuwe” boeke aan te skaf, kan haar kontak by 0844873866.