Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-KAKAMAS: ‘n Baie be-kende persoon in die Kakamas-omgewing, mnr. Vlok Hanekom, is onlangs oorlede. Toe berigte van sy dood op sosiale media begin verskyn, kon ‘n mens dadelik agterkom dat hierdie man groot agting in sy gemeenskap geniet het en op talle mense se lewe ‘n groot impak gemaak het.
Hy was ‘n eggenoot, ‘n pa, ‘n broer, ‘n oupa, ‘n vriend,  ‘n onderwyser, ‘n mentor - hy het vir soveel mense iets beteken.
Oom Vlok Hanekom het as jong onderwyser op Kakamas begin skoolhou.


Sy familie kom van die Koue Bokkeveld af, die plaas Kunje naby Ceres waar hy gebore en getoë is. Na skool het hy onderwys op Wellington gaan studeer. 
In 1968 begin hy onderwys gee en dis ook in daardie tyd wat hy sy vrou,Welma, ontmoet het. Hulle het saam by Hoërskool Outeniqua op George skoolgehou. Die paartjie trou op 14 Desember 1968 waarna hulle na Kakamas verhuis.
In Januarie 1969 begin mnr. Vlok Hanekom skoolhou  by Hoërskool Martin Oosthuizen en dis hier waar sy storie op Kakamas begin. Hy was vanaf 1969 tot 1988 ‘n onderwyser by HMO.
Vlok Hanekom het nie gras onder sy voete laat groei nie en in 1970 het hy ‘n klein stukkie grond langs die Oranjerivier gekoop - dit is waar die Mas vandaan kom. Oor die jare het hy grond aangekoop en met rosyne en wyndruiwe geboer. Later het hy tafeldruiwe aangeplant en in 2005 is die kelder gebou, die Hanekom’s het begin met Die Mas Wyne. Só het Die Mas wyne en brandewyne ontwikkel tot die spog wyne wat vandag gemaak word en wat deur die jare al talle pryse verower het.
Die Mas is ook bekend vir hul heerlike kuiers waar mense ook kan oorslaap en uitkamp in die selfsorgeenhede of uitkampplekke langs die Oranjerivier.
Maar meer oor oom Vlok. Hy en tannie Welna het vier kinders - Theunis, Coetzer, Welia en Vlok Jnr en 12 kleinkinders.
Johan Els, wat saam met oom Vlok skoolgehou het, het die volgende geskryf: 
Hoe groet mens n legende? Iemand wat ‘n onsterflike indruk gemaak het op almal wat sy pad gekruis het.  Iemand wat alombekend was. Die Mas van Kakamas.  My ou groot vriend, Vlok Hanekom, is na ‘n relatief kort siekbed oorlede. Rugbyspeler, onderwyser, boer - ruimte ontbreek om sy lewe kortliks op te som. Miskien makliker om te sê Vlok se lewe was vol hoofletters en uitroeptekens. Niks was halfmas nie. Met ‘n hup-hup-hup het hy almal gemotiveerd voluit vorentoe geneem. Hierdie onblusbare gees wat vir niks en niemand teruggestaan het nie. Ek groet jou Vlok, maar sal jou nie vergeet nie. Saam met menige oud-leerder van HMO sal ons telkens sit en gesels oor vele onthou-jy-nog stories waarin jy die hoofrol gespeel het.”
Johan Coetzee skryf in sy huldeblyk: Ek het by die man so baie geleer oor “sport en die LEWE” dat ek absoluut dit as ‘n groot deel van my vorming as my menswees beskou.
 “Klein goetertjies bly kom by my op. Hy’ t dit gehaat as iemand op die grond spoeg, want die aardkors was vir hom heilig. Hy het baie vies geraak as ‘n skoolkjênd sommer bome se takke of blare loop en afslaan het. Hy’t hom bitterlik vervies as iemand sommer ‘n miershoop op die grond plat trap of skop.
“Alles wat jy in die lewe aanpak, moet jy met oorgawe doen.  Hy’ t vir my geleer ‘n flank moet minstens twee strafskoppe in ‘n wedstryd afstaan, maar ‘n goeie flank weet waar op die veld hy dit moet afstaan.”
Oom Vlok Hanekom was ‘n kranige rugbyspeler. Hy het altyd rugby gespeel. As student ook, maar as onderwyser in George het hy vir SWD gespeel. Daar was hy kaptein van SWD, die span wat die All Blacks 3-0 gewen het.
 Toe hy op Kakamas skoolgehou het, het hy nog lank vir Kakamas Dorp en vir Noord-Wes Kaap uitgedraf.
Sy werknemers, jonger mense en vriende het hom “Oupa” of  “Obie” genoem. Die wynmaker by Die Mas, André Landman, sluit af met die volgende:
“Die woorde is min, maar soos oupa Vlok se teenwoordigheid en menswees, is die verlies enorm. ‘n Man wat vir niks en niemand teruggestaan het nie. ‘n Man wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. ‘n Man wie se hart geklop het vir die natuur en sy familie. ‘n Man van inbors, trots, ambisie en beginsel.
“Hy het menigte geleer en geïnspireer om te wees waar elkeen vandag is. Sy voorbeeld van harde werk pluk die vrugte. Sy hart was altyd op die regte plek. Sy dryfkrag en passie kon jy van ‘n afstand sien. Hy was en is steeds, ‘n VOORBEELD vir ons elkeen.
“Wat agterbly is nie net herinneringe nie. Die lesse wat hy ons geleer het, die kennis wat hy gedeel het, die insig wat hy gehad het, dit wat hy opgebou het, sy liefde en trots vir sy familie, DIT sal ons altyd bybly en nastreef.
“Legends stand out from the crowd, leaving a mark that is hard to forget.” 
Só sal hy onthou word… As ‘n LEGENDE!! As die MAS van Kakamas.”