GEMSBOK-KAKAMAS: Paul Muller, ook bekend as Oupa Muller in sy jongjare as ‘n briljante heelagter met die giftige kanonpoot, is op 27 Januarie aan ‘n hartaanval in ‘n hospitaal in Kakamas oorlede.
Oom Paul was 83 jaar oud. Hy is op 17 Julie 1942 in Kakamas gebore en hy was een van die vier bekende Muller-rugbybroers wat uitgeblink het vir hul klub Rivertons.
Dié broers het dikwels saamgestaan wanneer die pap dikgemaak word op die rugbyveld. Oom Paul sal altyd onthou word vir sy hotkloustewel wat die leer rugbybal myle ver geskop het! Sy onortodokse spel op heelagter vir sy klub Rivertons en vir Noordwes-Kaap was by tye uit die boonste rakke.
Oupa Muller was ook lid van NWK se rugbyspan wat in die wintermaande aan die moordende Rhodes-toernooi in die jare 60, in die Kaap deelgeneem het.
Op ‘n keer het hy melding gemaak van die “sterk vissermanne van die Weskus” (WP-platteland) wat op daardie toernooi sy moeilikste teenstanders was. Van sy spanmaats sal hom onthou as ‘n baie dapper en onvoorspelbare rugbyspeler.
“Hy was enig in sy soort. Nie net as ‘n rugbyspeler van formaat nie, maar as gemeenskapleier waar hy sy stempel met oorgawe afgedruk het. Ek sal jou altyd onthou as een van die grotes met wie ek die eer gehad het om skouer op ‘n rugbyveld te kon skuur,” skryf Deen Mouton, sy voormalige spanmaat in NWK-rugbyspanne van die jare 60 en 70.
By ‘n vorige onderhoudsgeleentheid in Kakamas in 2024 het oom Paul genoem dat “hy baie geeërd in plaaslike rugbykringe gevoel het vir mense wat hom die nodige ondersteuning én erkenning gegee het wat ‘n belangrike rol gespeel het in sy suksesse en vreugde as ‘n rugbyspeler.”
‘n Groot Noordwes-Kaap rugbylegende het afgesterf,” sê Hilton Oor in ‘n sosiale media-boodskap. ‘n Groot boom het in Kakamas en die Noord-Kaap geval. ‘n Stem het still geword, ‘n ware “gentleman” het ons verlaat”, skryf Arthur Strauss, voormalige NWK-heelagter van die 70 - en -80 jare in ‘n boodskap.
* Oom Paul se vrou, Liena Bonita (77) het hom in 2021 ontval. Hy laat sy ses dogters, Marlene (59), Erna (57), Susan (56), Liena )54), Roulene (51) en Paula (46) asook ‘n suster agter, asook 18 kleinkinders na.
Die begrafnis vind Saterdagoggend plaas vanuit die Saul Damon Congregational Kerk in Kakamas.
* Berig: Nick Pretorius









