GEMSBOK-UPINGTON: Die Expo-bestuur, onder leiding van die president, Henco Burger, het hul eerste vergadering vir 2026 gehou en planne word gemaak om weer ‘n interessante skou saam te stel.
So, Upingtonners en Noord-Kapenaars, moet 28 - 30 Mei dagboek hou vir die jaarlikse Upington Landbou Expo.
Verlede jaar is die terrein aangepas sodat meer aktiwiteite van die verhoog af besigtig kan word. Soos die Engelsman sê, “hierdie jaar gaan ons die uitleg fine tune,” vir deelname, asook skougangers se gemak.
Die Arabierperde gaan weer ‘n skou aanbied, die Skoukoningin word die Donderdagaand gekroon en die gewilde bejaardefunksie word die Donderdag gehou, met Micheal Lindt as die seremoniemeester en sanger.
Die jaarlikse Slagbees en -lam kompetisie is op die program en diere word reeds voorberei vir die kompetisie.
Die Plaaswerf wat verlede jaar geskuif is na ‘n nuwe area, sal oud en jonk vermaak met Francois Bedenhorst en sy span se aktiwiteite en interessante plaasdiere.
Henco Burger, die president, is reeds besig om met verskillende sangers te praat. Sodra die sangers vir Vrydag- en Saterdagaand vasgemaak is, sal ons dit bekend maak. Die skoukantoor is al lekker besig en Jean-Mari Hanekom kan by 073 343 4126 geskakel word vir stalletjies navrae, asook om u plek vir die skou te bespreek.









