Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Almal weet hoe lyk die jaar vanaf Oktobermaand. Afsluitings, skoolkonserte, kerkfunksies en besigheidsfunksies kom aangerol soos ‘n reuse-tsunami. Ons asems raak sommer droog net met die gedagte daaraan.   Die einde van die jaar alreeds het gewink soos die spreekwoordelike liggie in die wapad, toe die oproep vanuit die Kalahari weerklink. Kom ons hou Kunsteweek!   
Kuns in die diep Kalahari - Van Zylsrus. Hoe opwindend was dit nie van die heel eerste oomblik af nie. Ek het my goed verbeel hoe ons  kunsdae onder ‘n afdak van rietgras, met wildsbokkies wat wei om die tuin sou plaasvind. Met die gul gasvryheid van platteland om ons, natuurlik.


Die aasvoëlgeoglief
Benewens die kunstefees het die opwindende uitpak van die aasvoëlgeoglief deur PJ en Anni Snyman en hulle hele span ondersteuners en ontwerpers, ‘n hoogtepunt in die vooruitsig gestel. Die geoglief, ‘n tekening op die oppervlak van die aarde, beeld die aasvoël uit. Hier sal dan binne die vorm van die aasvoël ʼn wandelpad gevestig word, soortgelyk aan die drie vorige geogliefprojekte van PG en Anni Snyman by Aus (wildeperd), Loxton (Oewerkonyn) en die Slangkoparend by Matjiesfontein. Dié projek neem hande met die internasionale aasvoëlbewaringsprojek  by Van Zylsrus.
Nie net is daar 17,000 kalkklippe benodig nie, maar ook twee massiewe mangaanklippe wat deur die Trollope Mining Mokala Manganese geskenk is vir die oog en die kloue van die aasvoël. Besighede soos De Witt- padwerke het klip en gruis geskenk, en Kobus Duvenhage Bouers en die plaaslike boeregemeenskap het hulp aangebied. Dit is ʼn fenomenale spanpoging, veral as mens dink die aasvoëlwandelpad strek ook 3,5 kilometer!
So pak ek vir twee weke lank in vir die kuns in die Kalahari. Klere is my kleinste bekommernis, want ek gaan mos werk. Maar al die kunsmateriaal, die intense beplanning met lysies en nogmaals lysies wat my eetkamertafel vol lê, het my dae vol gemaak. 
Daarvandaan was daar nie keer nie. Ek het dae en nagte gewerk, geteken, kunsdoeke onderlaag geverf en behandel. Afdrukke is gemaak, gela- mineer, lysies afgemerk, kunsgoed sorgvuldig afgemerk en verpak in kratte met stewige deksels vir die stofpad. 
Om kuns te gee, is vir my ‘n wonderlike aftreewerk. Dis soms uitputtend, maar meestal is daar soveel beloning in, dat mens skoon vergeet van jou moeë voete. 
Kuns is egter terapie vir die uitgewaste gees.  As jy jou met een of ander vorm van kuns besig hou, koel jou binneste af en kry jy weer nuwe energie vir die volgende lading werk wat wag. Jou perspektief op die lewe, benadering tot probleemoplossings en verhoudings, asook spanningsvlakke, baat alles by ‘n kreatiewe skeppingsgleuf in jou lewe. 
Die kunste in alle vorme het op die Kalahari tydens Van Zylsrus Kunsteweek toegesak. ‘n Heerlike mosaïek van kreatiewe klasse is onder die leiding van die entoesiastiese en bekwame organiseerder, Pieter Abraham Pienaar, aangebied. 
Tekenkuns,  bricolage, blommekuns, kinderkuns, asook waterverfklasse, Die keramiekverf en pottebakkery  het mense aangegryp. Die kunsteweek was ook ‘n goeie toonvenster vir woordkunstenaars en skrywers wat die geleentheid kry vir boekvoorlesings en praatjies oor hulle werk. 
Byna al die klasse het in die ruim en praktiese kerksaal van die NG Gemeente in Van Zylsrus plaasgevind. Pottebakkery, waterfverf, keramiekverf en tekenkuns, asook akrielverfkuns is by elkeen se stasie aangebied. Die blommekuns het vlerke gekry in die gemeenskapsaal.
Na ‘n lang dag van harde werk het die Van Zylsrus Hotel waarlik ‘n oase vir die kunstenaars en studente gebied. Dis ook daar waar die kunstefees met ‘n keurige kaas-en wyngeleentheid afgesluit is. Kunstenaars en skrywers is die geleenheid gebied om hul werk hier uit te stal. 
My afdeling was om met akrielverf te skilder onder die naam  Kalahari Verfkwas. Vyf studente, waaronder een jong student van veertien jaar, het speel-speel geleer om met akrielverf te skilder. Die elemente van kuns, kennis van kleur en kwastegniek is deurentyd aangewend en vasgelê.  Dit was ‘n heerlike ontspanne klas met baie lag en gesels. Wat ‘n lekkerte was dit nie om mense te leer, om iets waar te neem en dan te skilder nie! Granate, mossies, magrietjies, skape en hoenders het onder elke student se hande ‘n eie unieke lewe gekry.
Elke student by die Van Zylsrus Kunsteweek het vir seker met meer kennis en groter selfvertroue huis toe gery.  Hier het ons met mekaar kennis gemaak en dan as ou vriende gegroet en huiswaarts gekeer met die wete dat daar tydens die kunsteweek ‘n sterk saadjie geplant is wat net kan groei.
Mag hier voortgebou word op die goeie fondasie wat in 2025 gelê is vir jare vorentoe.