GEMSBOK-UPINGTON: Die wenner van die tweede seisoen van die realiteitsreeks, “Moer ’n Boer, van kykNET, Junior Burger, is ‘n man wat van uitdagings hou.
Hy was een van 28 boere wat hul trekkers en stropers vir die opwindende wêreld van gemengde gevegkuns, oftwel MMA (mixed martial arts), verruil het en dit terwyl hulle steeds boer.
Onderleiding van die UFC-vegter Cameron Saaiman en aangevuur deur die unieke charisma van die gasheer, Janneman van den Berg, het kykers die boere se pad van die plaas na die geveghok gevolg. Die reeks het die boere se reis na selfontdekking, hulle harde werk en toewyding, asook die kameraadskap en konflik tussen die manne gewys. Neil Geyser en Dwain Meredith was die afrigters van verskillende spanne.
Junior het na die eerste seisoen se “fights” op “U-tube” gekyk en dit het hom laat besluit om in te skryf. Van die 200 inskrywings is 80 boere gekies om deel te neem aan die program. Na die eerste rondte, is 28 manne gekies om voort te gaan met die uitdaging. Junior sê hy was besig om druiwe te oes, toe kykNET hom bel om te sê dat hy een van die 28 deelnemers is.
Hy was nog altyd baie sportief en ‘n kranige rugbyspeler, maar na beserings het hy opgehou rugby speel en kom boer. Hy het besluit om in te skryf om fiks te raak en om aan homself te werk. Om fisies sterker en fiks te word.
Hy het verlede Desember uitgevind hy is een van die 80 boere wat gekies en het toe by die Cross Fitt gym aangesluit vir fiksheidsoefening.
Boere wat nog nooit enige gevegservaring het nie, mag inskryf, Almal wat deelgeneem het was boere uit verskillende dele van die land. Toe hy gehoor het hy is een van die 28 boere, het hy begin boks en ernstig begin oefen. “Oom Hennie Ferreira het my touwys gemaak met die boks, hy het my baie geleer,” het Junior gesê. “Die stoei het ek aangeleer by Drikus du Plessis se CIT MMA Gym in Pretoria.”
Na die uitdunne het hy gereeld Pretoria toe gegaan om opnames te doen en te oefen. Wat Junior die meeste geniet het van die hele ervaring, was om al die boere te ontmoet en die samesyn met die manne. Die uitdagings was ook lekker. “ Ek is lief vir boks, nie soseer die stoei nie, maar dis met die stoei, wat ek my “fight” gewen het.”
Dit was vir hom ‘n besondere ervaring om te wen, hy het dit nie verwag nie. Morné Visser, al die afrigters en die publiek kon kies wie die wenner was. Hulle het dwarsdeur die seisoen boere beoordeel met die verskillende uitdagings wat hul gedoen het.
Die reeks was egter nie net oor boer en baklei nie. Die boere moes ook hulle staal op ander maniere wys – van ’n skietkompetisie tot ’n braaikompetisie. Daar was selfs ’n episode waarin die boere die media tydens ’n perskonferensie moet trotseer.
Episode 10 se fokus was op boeresport, en van die deelnemers van seisoen 1 was daar om tou te trek, bokdrolle te spoeg en damme te bou.
Die groot geveg was by die Heartfelt Arena in Pretoria met Ricus de Beer – beter bekend as Radio Raps – as aankondiger langs die kryt. Daar het Junior sy geveg gewen.
Junior sê hy sal die uitdaging vir alle jongmanne aanbeveel. “Moenie dink jy kan dit nie doen nie. Skryf in en kyk of jy kwalifiseer. Dit maak jou nie net fiks en leer jou om te boks en stoei nie, maar dit leer jou ook baie van die lewe. Maak jou fisies en emosioneel ‘n sterker mens en toets jou uithouvermoë.”
“Moer ‘n Boer” het sy lewe verander, nie net fisies nie, maar hy het ‘n ander uitkyk op die lewe. Alles wat jy ondervind en beleef het, maak jou ‘n ander mens. Die kompetisie dwing jou om uit jou gemaksone uit te kom. “Die sport leer jou respek - jy kan nie kwaad in die ring ingaan nie, jy moet fisies kophou en dink.”
Op 4 Oktober Junior is aangewys as die wenner van Seisoen 2 se “Moer ‘n Boer”. Behalwe vir die spoggerige belt wat hy gekry het, het hy ook ander pryse en ‘n vakansie gewen.
** Junior is getroud met Chantelle, sy is afkomstig van die Vrystaat. Hulle het ‘n seuntjie van 1 jaar en 7 maande, Jacobus Burger. Junior boer op Sesbrugge saam met sy pa, Braam en Adele Burger.
Sy vrou, Chantelle, het hom baie ondersteun gedurende die kompetisie. Sy is ‘n dieëtkundige en het sy dieetplan uitgewerk. Hy sê hy het baie hard geoefen en die kompetisie baie ernstig opgeneem. Dit was vir hom ‘n fisiese en geestelike uitdaging.
Sy familie en pelle is baie trots op hom. Hy is nie gewoond aan al die aandag wat hy nou kry nie nie. Soms keer mense hom voor om ‘n foto saam met hom te neem en dan voel hy tog trots, al is hy nie ‘n man wat daarvan hou dat die kollig op hom val nie.









