GEMSBOK-UPINGTON: Nog ‘n Upingtonner, Jean Piere Zietsman, het ook aan die tweede seisoen van “Moer ‘n Boer” deelgeneem en sy finale geveg na drie rondtes gewen.
Jean Pierre, was soos Junior Burger, ook in die rooispan. Toe Jean Pierre hoor van die kompetisie, het hy dadelik besluit om in te skryf. Hy wou aan homself bewys dat hy nog op 35 fiks en gesond is. Of hy teen mense van sy eie gewig, sy staal kon wys.
Jean Pierre was nog altyd baie fiksheidsbewus en oefen al jare by ‘n gym en met gewigte. Hy geniet die skop/boks. Hy het by Adriaan oftewel Shihan Beukes van “Change Through Sport,” by die swembadsaal hier op Upington, geoefen.
“Adriaan het my fiksheid na ‘n ander vlak gevat, my refleksie en spoed het baie verbeter,” het Jean Pierre gesê.
Jean Pierre het sy finale geveg in drie rondtes gewen.
Hy sê die kompetisie het hom geleer dat hy uithouvermoë het. “Jy kan jou nie voorberei vir daardie gevegte wat ons gehad het nie. Dit was een van die hoogtepunte van my lewe. ‘n Mens moet op jou voete dink en in die oomblik bly,” het Jean Pierre gesê.
Wat hom ook van die kompetisie bybly, is die interaksie wat die manne nog met mekaar het. “Ons, die Rooispan-manne, is op ‘n groep en daag mekaar steeds met hul fiksheid uit.”
Jean Pierre Zietsman woon op Klippunt waar hy ‘n bestuurboerdery het. Hy boer met bees, skaap en wild en het ook ‘n hoenderboerdery, Cheeky Chickens.









