GEMSBOK-BERGSIG: Lede van die Namakwa Distrikstaakspan het twee manlike verdagtes vasgetrek, wat na bewering van Nababeep op pad was met dwelms wat hulle in Bergsig gaan haal het.
Die verdagtes was na bewering in 'n wit Toyota Corolla op pad.
Polisielede het vinnig gereageer en die voertuig in Waterkant, Bergsig, opgemerk.
Toe hulle die polisie opmerk, het die verdagtes probeer om arrestasie te ontduik, maar is in Maarmanstraat, Bergsig, voorgekeer.
Tydens die deursoeking het lede mandrax-tablette ontdek wat aan die passasierskant van die voertuig versteek was. Die geraamde straatwaarde van die gekonfiskeerde dwelms is R33 800.00.
Twee verdagtes, 24 en 25 jaar oud, is in hegtenis geneem vir dwelmhandel en sal binnekort in die landdroshof verskyn. Die Namakwa SAPS bly daartoe verbind om 'n #veiligerfeesseisoen te verseker deur dwelms uit ons gemeenskappe te verwyder en oortreders voor die gereg te bring.