GEMSBOK-KURUMAN: Skokgolwe is onlangs vir ‘n tweede maal deur die Kuruman- en uitgebreide boerderygemeenskap gestuur, na die wrede moord op ‘n boer van die omgewing gelei het tot, wat beskryf word as ‘n gebrek aan geregtigheid vir die familie van Hendrik Venter (81), nadat die saak van dié vermoorde boer van die hofrol geskrap is.
Venter is in September verlede jaar wreed op sy plaas vermoor. Hy het sy eiendom, geleë tussen Kuruman en Hotazel, omstreeks 08:30 verlaat om lone vir sy werkers te betaal. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig ontdek, met ernstige kopbeserings, het Cherelle Ehlers. polisiewoordvoerder, in ‘n verklaring oor die voorval gesê.
Vier mans is die volgende dag glo in hegtenis geneem. “Hierdie voorlopige terugtrekking blyk die gevolg te wees van ’n gebrekkige polisiedossier en substandaard ondersoekwerk.
Volgens die regsfirma Duvenhage en Van der Merwe Inc., wat namens die Venter-familie optree, het die familie ook gevra dat die NVG en die Valke om dringende korrektiewe stappe te neem, om te verseker dat geregtigheid nie net geskied nie, maar ook gesien word dat dit geskied – met die erns wat die situasie vereis.
Daar word gesê dat die tydlyn van hofversky-nings ’n kommerwekkende patroon van herhaalde vertragings en administratiewe mislukkings toon. Die saak is aanvanklik in Januarie vanjaar uitgestel, in afwagting van instruksies van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV).
Nadat die DOV hierdie instruksies op 21 Februarie uitgereik het, is die saak weer vertraag. Die staat het glo nie op die DOV se leiding gereageer nie. Dit glo omdat die ondersoekbeampte nie gekontak kon word nie.
Die dossier en die staat se antwoord is uiteindelik op 2 April by die DOV ingedien, maar die saak is weer eens uitgestel.
Die Staat het op 30 April verdere instruksies van die DOV ontvang met ‘n versoek om bykomende verklarings - maar die aanklaer het egter glo versuim om te spesifiseer watter verklarings vereis is of watter besonderhede verduideliking benodig.
AfriForum en ander rolspelers, het ook om die beurt die senior staatsaanklaer by die Kuruman Landdroshof in ’n formele skrywe genader, om te eis dat regstellende stappe gedoen word - om geregtigheid te laat geskied.
AfriForum het ook sy kommer uitgespreek oor die sistemiese mislukkings van dié hof.
“Hierdie mislukking van geregtigheid vir die Venter-familie en die breër publiek vereis onmiddellike optrede van die owerhede. Die saak moet daarom met die nodige dringendheid weer op die hofrol geplaas en na die streeks-hof oorgeplaas word, soos senior lede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) herhaaldelik verseker het dit sou word,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se streekshoof vir die Noord-Kaap.
Hierdie verwikkelinge het die trauma wat die Venter-familie ervaar het, vererger en die openbare vertroue in die regstelsel se vermoë om voldoende op misdade van hierdie aard te reageer, verder ondermyn. Dit is onaanvaarbaar dat sistemiese ondoeltreffendheid en ’n gebrek aan vervolgingsvermoëns tot die opskorting van geregtigheid kan lei. AfriForum het dus ook versoek dat die NVG dringend die prosedurele en administratiewe mislukkings wat tot hierdie ineenstorting van die stelsel gelei het, hersien en daaroor verslag doen.
“Dit is nie net ’n administratiewe oorsig nie – dit is ’n geregtelike dwaling. Die NVG is dit aan die Venter-familie en elke ander familie wat deur plaasaanvalle verwoes is verskuldig om vir geregtigheid te veg en te verseker dat hierdie sake nie opsygeskuif word nie,” sê Van Dalen.
AfriForum staan gereed om die NVG op enige moontlike manier by te staan, insluitend skakeling met privaat forensiese laboratoriums en die verskaffing van regshulp, om te verseker dat hierdie saak doeltreffend en sonder verdere vertraging voortgaan.