GEMBSOK-GROBLERSHOOP: Na ‘n ontstellende voorval verlede week, waartydens beweer word dat een van die plaaslike boere deur ‘n kommersiële boer aangerand is - wat dan ook blykbaar tot ‘n betoging gelei het, het ‘n positiewe en konstruktiewe gemeenskapsvergadering Maandagaand in Grootdrink plaasgevind.
Die vergadering is belê nadat die takleierskap van die !Kheis Boerevereniging, geaffilieer by die National African Farmers’ Union (NAFU), die saak onder die aandag van die provinsiale leierskap van NAFU gebring het.
Hierdie intervensie het gelei tot die teenwoordigheid van sleutelrolspelers, insluitend Hendrik van Wyk (wyksraadslid !Kheis Munisipaliteit), lt. kol. Venter (stasiebevelvoerder, SAPD Groblershoop), verteenwoordigers van die Gemeenskaps Polisiëringsforum (GPF), provinsiale president Messelaar en die Provinsiale Leierskap van NAFU asook leierskap van die !Kheis- en Groblershoop Boereverenigings.
Lt. kol. Venter het die gemeenskap ingelig oor die prosedures van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die toepaslike regsraamwerk. Sy het beklemtoon dat die polisie nie oor skuld of onskuld oordeel nie, maar bewyse versamel wat dan in die hof ter beoordeling voorgehou word. Sy het ook die publiek ingelig oor die bepalings van die Strafproseswet, spesifiek met verwysing na aanranding en verduidelik dat sogenaamde “gewone aanranding” nie altyd tot onmiddelike inhegtenisneming lei nie, aangesien dit onderhewig is aan die meriete van die ondersoek.
Verder het sy gewaarsku teen die versperring van paaie en ander vorme van onwettige optrede. Hoewel vreedsame betogings toegelaat word, mag dit nie die regte van ander mense skend of die openbare orde ontwrig nie.
Sy het bevestig dat lede van die Openbare Orde Polisiëringsdienste (POPS) van die SAPD Maandagoggend opgetree het tydens ‘n onwettige betoging waarin buitebande aan die brand gesteek was en publieke eiendom beskadig is. Verskeie arrestasies is gemaak, en die saak word tans ondersoek deur Sersante Mqotha en Du Plessis.
Beide die beweerde aanrandingsaak en die saak rakende die onwettige betoging sal binnekort in die hof verskyn.
Mnr Richard Opperman, inwoner van Grootdrink het die belangrikheid van landbou vir die streek beklemtoon en dit beskryf as die “groen diamant” van die area. Hy het genoem dat plaaslike boere grotendeels voorkeur gee aan die indiensneming van plaaslike inwoners, eerder as om op buitelandse arbeid staat te maak teen die algemene persepsie in die sektor.
Eerw. A. Messelaar, provinsiale president van NAFU, het ‘n beroep op die SAPD gedoen om hul mandaat onpartydig en regverdig uit te voer. Hy het die belang van gesonde en respekvolle verhoudings tussen boere en gemeenskappe beklemtoon en verklaar dat eenheid en samewerking noodsaaklik is vir vooruitgang. Hy het verder gewaarsku dat enige rolspeler wit of swart, kommersieel of opkomend wat verdeeldheid eerder as versoening bevorder, hulself ernstig moet afvra of hulle werklik ‘n bydrae tot ‘n gedeelde toekoms wil maak.
Mnr André Smit, as verteenwoordiger van die kommersiële boere, het saam met ander boere ‘n beroep gedoen op samewerking tussen alle belanghebbendes. Hulle het hul kommer uitgespreek na die beskadiging van voertuie tydens die onwettige betoging Maandagoggend en beklemtoon dat stabiliteit, veiligheid en landbouproduktiwiteit slegs deur gesamentlike pogings herstel en bevorder kan word.
Wyksraadslid Hendrik van Wyk, het sy volle ondersteuning uitgespreek vir versoening en gemeenskapsontwikkeling. Hy het verklaar dat Grootdrink ‘n veilige hawe vir ekonomiese groei behoort te wees, waar alle inwoners, ongeag agtergrond, kan floreer.
Mnr Gershuan Baster, sekretaris van die !Kheis Boerevereniging, het alle deelnemers bedank vir hul bereidwilligheid om aan openhartige gesprekke deel te neem. Hy het dit duidelik gestel dat daar geen plek vir rasseverdeeldheid in die samelewing behoort te wees nie, aangesien beide wit en swart boere, sowel as gemeenskapslede, gebuk gaan onder ‘n ekonomie onder druk en ondermyn word deur kriminele elemente wat sulke spanninge vir eie gewin probeer uitbuit.
Ten slotte het hy die gemeenskap gerusgestel dat die vergadering ‘n betekenisvolle grondslag gelê het vir volgehoue dialoog en samewerking. ‘n Gesamentlike vergadering tussen die twee boereverenigings is vir Dinsdag om 11:00 geskeduleer, waarna verdere gesprekke met ander belanghebbende rolspelers sal volg alles met die oog op die bevordering van harmonie, wedersydse begrip en volhoubare landbou ontwikkeling in die streek.