GEMSBOK-NABABEEP: Die Nababeep SAPD ondersoek ‘n saak van roof na aanleiding van ‘n voorval wat op Woensdag 12 November 2025 omstreeks 14:00 op die N7 naby Okiep plaasgevind het.
Volgens die klaer, ‘n 49-jarige buitelandse sakeman, was hy op pad van Windhoek na Kaapstad vir besigheid toe die beweerde voorval plaasgevind het.
Hy beweer verder dat ‘n onbekende wit voertuig hom verbygesteek en skielik voor sy voertuig naby die brug in Okiep gestop het.
Met die stilhou van die voertuig het twee onbekende mans uit die wit voertuig geklim en hom genader.
Een verdagte het die klaer opdrag gegee om uit sy voertuig te klim terwyl die ander die voorste passasiersdeur oopgemaak en toegang tot die paneelbordkompartement verkry het.
Die verdagte het na bewering ‘n deursigtige plastieksak met ‘n aansienlike hoeveelheid kontant verwyder.
Tydens die voorval is die klaer fisies vasgehou en daarna op die grond gestoot.
Die verdagtes het toe met die gesteelde kontant van die toneel gevlug.
Geen wapens is gebruik nie, en die klaer het geen beserings opgedoen nie.
Die verdagtes is in hierdie stadium nog onbekend, en die aantal insittendes in die verdagte voertuig is onbekend.
‘n Saak van gewone roof word deur Nababeep-speurders ondersoek.
Enigiemand met inligting kan speurder sersant Deory Smith skakel by 060 861 9156
Of kontak die SAPS MISDAADstopnommer 08600 10111 of gebruik die MYSaps-app.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.









