GEMSBOK-UPINGTON: : Duineveld se “Kuifie”Jansen (4/19) en Hein Stach (54 lopies, 51 balle) was Saterdag dié span se groot uitblinkers in hul span se sege oor Upington Lions hier op Op die Voorpos se krieketveld berig Nick Pretorius.
Stach se flitsende kolf en ‘n ewe skitterende boulontleding van 4/19 en 28 lopies van 32 balle deur Jansen het die deurslag gegee in die ZFM-eindstryd waar Duineveld die span van Lions deurgaans onder kwaai druk geplaas het. Jansen is soos rooi wyn vir sy span - hoe ouer hoe beter. Sy goëlballe van ‘n goeie lyn en lengte was eens te veel gewees vir Lions. Stach aan die ander kant het die boulers van Lions met mening bygekom en dit was ‘n lus vir die toeskouers om hom Saterdag op sy beste te sien!
Errol Thopps, Lions se snelbouler (4/29) en Darren Coetzee (3/24) het beïndruk met goeie vertonings en dié twee het Duineveld se kolwers goed in toom gehou met swaai en kortballe wat op ‘n goeie kolfblad hulp verleen het aan die bouler. Franco Swart (3/37) het ook met verskeidenheid variasies die kolwers goed vasgepen. Duineveld het vroeg in die oggend eerste gekolf en is vir 185 lopies almal uit geboul. Tydens die middagskof het die kolfblad meer wip en swaai aan Duine-veld se boulers verleen en “Kuifie” Jansen met sy draaiballe het die blad uitstekend tot sy voordeel benut. Lions se kolwers het met reëlmaat hul paaltjies soms met roekelose houe “weggesmyt” en teen die einde van hul treurmare was die span teen die planke! Lions kon net met 78 lopies antwoord waarvan Franco Swart se 28 lopies van 41 balle die beste gevaar het. Duineveld was op die dag se spel die beter span en hulle het die oorwinning verdien met 107 lopies. Vroeg in Januarie 2026 skop die T20 ZFM-liga af. * Tydens Saterdag se eindstryd het Byron Cloete, een van die skeidsregters, inmekaargesak en die ER-nooddienste was binne minute by hom om hom na die hospitaal te haas. ZFM-krieket wil hul opregte dank betuig vir hul knap en vinnige bystand tydens hierdie onverwagte voorval.









