Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Pretoria - Die Voortrekkermonument in Pretoria is in die gees van lente kleurvol getooi in aanloop tot die maand lange 200ste herdenking van Paul Kruger, president van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), se geboortedag op 10 Oktober 1825. Dit is die eerste keer sedert die jare tagtig wat die Monument op dié manier versier word. “’n Fees ter herdenking van Kruger se nalatenskap kan natuurlik nie in isolasie van die vier kleure van die destydse Transvaal geskied nie. Benewens byna 300 meter se kleurvolle materiaalbane (wat met 6 km se gare gestik en 300 meter se kabel versterk is) aan die vooraansig van die Monument, word dié graad 1- nasionale erfenisbaken ook saans verlig as huldeblyk aan die voormalige staatsman,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.

Vir Brand is die 200ste herdenking van Kruger se geboorte ook iets diep persoonlik omdat hy nie net ’n nasaat is nie, maar ook die kleinseun van die gerekende historikus prof DW Krüger, wat verskeie gesaghebbende boeke oor Kruger gepubliseer het.

Volgens Brand was Kruger ’n toekomsbouer wat hom beywer het vir ’n beter toekoms vir die Afrikaner, die Engelse, die inboorling én die uitlander in vredevolle naasbestaan. “Kruger was in wese ’n bouer. Ons ontmoet hom die eerste keer in die geskiedenis as seuntjie op die Groot Trek en sien hom ook as 11-jarige in die marmerfries in die Monument by Vegkop. In dié tyd was daar niks - nie ’n pad, ’n dorp, myn, stad of spoorlyn in sig nie. 

“Toe Kruger as president sterf, skaars 50 jaar later, was daar ’n Bloemfontein, Bethlehem, Rustenburg, Pretoria, Johannesburg. Daar was myn-, grond- en onderwyswette. Daar was skole, kerkgeboue, gevestigde dorpe, en dit was één geslag wat dit gebou het. Kruger se geslag. Kruger simboliseer ’n bougees op ’n besonderse manier in die Afrikanergeskiedenis, en ons het vandag die voorreg én verantwoordelikheid om steeds bouers te wees.

“Sekerlik een van Kruger se grootste lesse was om dít wat mooi en edel is uit die verlede te neem en daarop ’n toekoms te bou. Die Voortrekkermonument erken die ZAR-kleure as historiese en kulturele simbole van die Afrikaner se verbintenis met sy Europese verlede en verbondenheid met Afrika.”

Die Vierkleur is in 1856 deur ds Dirk van der Hoff, die eerste predikant in Transvaal, ontwerp en op 18 Februarie 1857 deur die Transvaalse Volksraad as amptelike vlag erken. “Die rooi, wit en blou bane herinner aan die Nederlandse landsvlag, en verwys na die Afrikaner se historiese verbintenis met Europa en ons Westerse erfenis. Die groen baan simboliseer die vrugbaarheid van die land, asook ons onlosmaaklike verbintenis met die Afrika-vasteland,” sê Brand. 

Volgens Brand dra die vier kleure besonderse betekenis. “Volgens ds Van der Hoff se verduideliking tydens die inwyding van die kerkgebou op Kerkplein in Pretoria op 23 Februarie 1857, simboliseer die kleure die volgende: groen dui op die vrugbaarheid van die grond, groei en hoop; wit dui op vrede, suiwerheid en eerlikheid; blou verwys na geloof, lojaliteit en Goddelike leiding; en die rooi na moed, opoffering en liefde.”

Met dié vlag in die hand het dapper Boerekrygers die magtige Groot-Brittanje aangedurf om dié moondheid se aggressiewe koloniale beleid te stuit. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) het die Transvalers daarin geslaag om die enigste volk te word om ’n oorlog teen die Britse ryk te wen tydens die bewind van koningin Victoria. ’n Variasie van die Vierkleur is later ook deur die Griekwas as kultuursimbool aangeneem.

“Dit herinner ons voorts aan die duisende vroue en kinders wat die hoogste prys betaal het vir vryheid. Wanneer ons in 2025 op Kruger se nalatenskap terugkyk, doen ons dit met ’n nederige toekomsbou-ingesteldheid. Een van vooruitskouiing en vredevolle naasbestaan. 

“Ons is nie blind vir die enorme uitdagings van ons tyd nie, maar glo, soos Kruger: ‘Ons mag nooit wanhoop nie, want ons God is ’n wonderbare God,’” sê Brand.