GEMSBOK-KANONEILAND: Op Saterdag, 20 September 2025 het ATKV Rooiduin-tak tesame met African Vineyard, die 100 ste bestaansjaar van Afrikaans gevier. Die geleentheid is in ‘n warm atmosfeer aangebied waar kultuur, musiek, taal en kuns hande gevat het.
Na ‘n fantastiese voorgereg met pons, verskeie brode en patees in die skilderysaal, is die hoofgereg in Afrikaanse tradisie aangebied, in die vorm van ‘n langtafel, in die tuin met ‘n egte
Boerekos spyskaart soos onder andere skaapstertjies, pampoenkoekies, beespastei, beet, bone en vele meer.
Hierdie feesmaal is dan ook gekomplimenteer met ons plaaslike wyne vervaardig deur OWK. Mev Sonél Brits, uitvoerende hoof van MSW het ‘n heildronk ingestel op ons pragtige taal. Nagereg is uitgepak met ou gunstelinge soos melktertjies, dadelbolletjies, pekaneuttertjies en meer.
Die dekor was keurig en romanties onder die bome met kerse en fyn blomme maar veral blomkole wat die tafels versier het.
Hierdie 200 blomkole is dan ook geskenk aan CRC Cares Upington met die doel om die gemeenskap te be voordeel.
Met sy kenmerkende baritonstem het Jannie Moolman, tesame met Franco Engelbrecht op die klavier, die gehoor op ‘n reis geneem deur dekades van Afrikaanse musiek met ‘n verskeidenheid liedere wat die rykdom en veelsydigheid van Afrikaans beklemtoon.
Hierdie viering het bevestig dat Afrikaans steeds leef, groei en nuwe generasies aanraak.
In die skilderysaal is kunswerke van talle plaaslike kunstenaars ten toon gestel waartydens Jan Taute en Kristien Adrianatos die gaste met sagte klassieke klanke betower het. Die kultuurleerders van Hoërskool Duineveld het die gaste bedien en toegesien dat verrigtinge vlot verloop.
Hierdie geleentheid is dan ook bygewoon deur die hoofbestuur van die ATKV. Talle borge het die ATKV ondersteun deur verskeie geskenke wat as gelukkige trekkings gedien het.
Mev Beatrix Venter is vereer deur ‘n spesiale toekenning vir haar toewyding tot die bevordering van Afrikaans. ATKV Rooiduin-tak spreek hul dank uit aan almal wat hierdie feesvieringe ondersteun het.
Indien u deel wil word van hierdie dinamiese organisasie, besoek gerus hul webtuiste by lede.atkv.org.za.