GEMSBOK-UPINGTON: : 'n Groot deel van Upington se gemeenskap het Saterdagoggend finaal afskeid geneem van een van sy geliefde oud-onderwyseresse.
Vera Shirley Daniels is ná 'n betreklik lang siekte in die privaat mediese sentrum hier oorlede. Sy was 78.
Vera is op 13 Junie 1947 in Carnavon gebore uit 'n gesin van 16 van wyle Hendrik "Toy" en Sarah Elizabeth Julius. Sy het haar bekwaam as 'n kindertuinonderwyseres aan die Battswood Kollege in Wynberg, Kaapstad.
In 1967 het haar skoolloopbaan by 'n laerskool in Lutzburg begin en vyf jaar daarna het sy by die Primêre Skool Oranje-Oewer 'n pos aanvaar. Hier het die jong dame skool gehou totdat sy die vrywillige skeidingspakket vir aftrede aanvaar het.
Op 4 Desember 1995 het sy in die huwelik getree met Martin Daniels, 'n onderwyser van beroep. Vera het in 2011 haar eerste hartaanval gehad en dit oorleef. Daarna was sy in verskeie hospitale opgeneem weens haar verswakte hart. Sy sterf vreedsaam op 3 Augustus in Upington se mediese sentrum.
'n FaceBook-inskrywing van Rudolph "Bokkie" Saal lui soos volg: " Vera Julius-Daniels was 'n skooljuffrou van formaat. Ek is so dankbaar dat ons saam kon "skoolhou" toe ons nog jonk was. Sy was 'n kunstige, veelsydige, toegewyde en vrolike skooljuffrou en persoon. Ek het haar oudste broer Vincent en haar mammie as kind leer ken. Ons het in konserte saamgespeel en die vrolike sang van die gesin baie geniet. Hulle was so 'n gelukkige en geseënde gesin.
“Vera kon baie mooi skryf en sy was die een wat ons nuwe kerklidmate se sertifikate met pragtige sierskrif opgetooi het.
“Later was ons bure in Upington en ek was saam met haar pa oom Toy op die NG Sendingkerk se kerkraad. My opregte simpatie aan haar familie en vriende en in besonder haar kinders, kleinkinders en man, Martin. Ons is lief vir julle".
Deen "Tonna" Mouton, oud-skoolhoof van Rosendal Primêr onthou haar as "'n vriendelike en behulpsame persoon met 'n mooi geaardheid wat uitgestaan het".
Sy is Saterdag vanuit die VG Kerk ter ruste gelê. Sy laat haar man, een broer, vier susters, twee seuns, 'n dogter, een skoondogter, 10 kleinkinders en sewe agterkleinkinders na.
*Berig: Nick Pretorius