Die Suid-Afrikaanse kosskrywer Herman Lensing (38) het met dubbel-goud by die jaarlikse Gourmand Wêreld-kookboektoekennings weggestap, toe twee van sy boeke toppryse as die beste ter wêreld ingepalm het.
Sy splinternuwe tiende kookboek wat so pas verskyn het, Herman se tafel (Penguin Randomhouse), is as die beste kookboek van 2025 aangewys toe dit as die oorhoofse wenner in die Glanssjef Wêreld-afdeling aangewys is.
Die Gourmand-toekennings, wat as die Oscars van die koswêreld beskryf word, is oop vir alle tale en daar is inskrywings vanuit meer as 200 lande en streke.
Boonop is dit vanjaar die toekennings se 30ste bestaansjaar. Om dit te vier, was daar spesiale pryse vir die beste kookboeke wat die afgelope drie dekades die lig gesien het en was Herman se topverkoper, Air-Fryer: Herman’s top 100 recipes (Jonathan Ball Publishers), die glanssjefboek-wenner.
Dié aankondigings is die naweek in Riyadh, Saoedi-Arabië gemaak, waar die stigter van die toekennings, Edouard
Cointreau, Herman se tafel-boek vir sy diepte en kulturele bydrae geloof het.
“Herman se tafel is ’n wonderlike huldeblyk aan die kombuis as die hart van die huis en samesyn,” het hy gesê.
“Met vaardigheid, kreatiwiteit en toeganklike sjarme kombineer hy geliefde Suid-Afrikaanse disse met wêreldgeure,
terwyl hy ook nuttige wenke gee oor tafeldekplanne en om gasvry mét styl te wees.
“Hierdie boek is ’n viering van saamwees, die band van ete as ’n samekoms, en die verbintenisse wat daaruit groei.”
Oor Air-Fryer: Herman’s top 100 recipes sê Edouard dat Herman daarin geslaag het om lugbraaier-kookkuns in iets
besonders te omskep.
“Dit is ’n opbouende versameling wat vreugde, balans en geur na elke kombuis bring.
“Dié boek is gewortel in liefde, herinneringe en Herman se benadering dat ‘kos is nooit kwaad nie’. Dit is ’n boek wat vertroosting, viering en heling – alles in een bied.”
Volgens Herman is hierdie internasionale erkennings vir sy boeke ’n bewys dat Suid-Afrikaners op alle vlakke met die beste in die wêreld kan meeding.
“Ek is buitengewoon opgewonde oor hierdie toekenning en dit maak my veral trots dat Afrikaans op ’n internasionale verhoog kan staan en raak gesien word,” sê hy.
“Herman se tafel is vir my lesers en ek weet dat hierdie tafel wat ek daarmee gedek het, nie net hul lewe nou mooi gaan maak nie, maar ook die wêreld s’n.
“Dit is ’n boek wat ’n stukkie van my hart is, want dit gaan eintlik ook oor diegene wat ek lief het, ’n oomblik wat ek koester, of ’n kosbare herinnering wat ek naby hou.”
Die Gourmand-pryse volg kort op die hakke van nog ’n gesogte toekenning vir Herman.
Hy is onlangs vir die negende keer met die Galliova-toekenning as Suid-Afrika se beste kosskrywer bekroon.
Boonop is Herman ook vanjaar as Netwerk24 se Smaakmaker van die jaar aangewys is.
Nog ’n 2025-loopbaanhoogtepunt vir Herman is sy rol as mede-aanbieder en -beoordelaar van kykNET se nuwe koswerlikheidsreeks, Kokkedoor: Son & see. Dié reeks word Donderdagaande om 20:00 op kykNET
(Dstv-kanaal 144) uitgesaai.
Herman se tafel word deur Penguin Randomhouse uitgegee en Air-Fryer: Herman’s top 100 recipes (ook in Afrikaans beskikbaar as Lugbraaier: Herman se 100 beste resepte) is van Jonathan Ball Publishers. Beide boeke is by boekwinkels landswyd te koop of kan aanlyn by www.hermanlensing.co.za bestel word.









