GEMSBOK-UPINGTON: Sy laaste wens was dat sy familie hom by sy broers in Upington ter ruste moet lê. Dit was toe uit respek en eerbied aan hom toegestaan.
Robin Franklin Zealand het sag heengegaan op Vrydag 5 Desember in sy huis in Kuilsrivier naby Kaapstad ná ‘n kort siekbed, omring deur sy familie, het sy vrou Deborah (67 jr) , aan ons meegedeel. Robin was 71 jaar oud.
Hy was ‘n oud-inwoner van Upington wat in die tagtigerjare met sy gesin na Kaapstad verhuis het. Robin is op 5 November 1954 in Matroosfontein naby Kaapstad gebore uit ‘n gesin van ses broers en vier dogters van wyle Lesley en Gertrude Zealand.
Hy het in 1960 by die Laerskool Franciscus begin en in 1972 aan die Hoërskool Carlton Van Heerden gematrikuleer. Ná sy skoolloopbaan het hy hom bekwaam as ‘n metaal-en sweiswerker by die Konsani-maatskappy in Kaapstad. Hy het later ‘n betrekking aanvaar by Eskom in Upington waar hy vir 35 jaar aan diens was.
In 1982 is hy getroud met ‘n nooi Deborah van Wyk, ‘n onderwyseres van beroep. Drie kinders, Carmen, Farren en ‘n seun Lorin is uit hul huwelik gebore. Robin het tydens sy verblyf in Kuilsrivier die BE Ekon.-graad by die Skier- eilandse Universiteit van Tegnologie verwerf. “
U stemboodskappe van medelye, oproepe en handdrukke word opreg deur ons waardeer”, het sy vrou gesê. “Robin was ‘n ware gesinsman wat baie lief was vir sy vrou en kinders. Ons sal sy grappies en sêgoed altyd onthou”, het ‘n vriend Lesley Jansen in ‘n huldeblyk in die kerk gesê.
“My pa se onvergeetlike herinneringe bly vir ons ‘n helder, sagte lig, ‘n fluistering van ware liefde en respek vir ons as gesin. Ons gaan hom baie mis”, het sy dogter Carmen gesê.
Die diens in die kerk was gelei deur vader Andries Pretorius, wat in sy treffende troosboodskap “die dood as pynlik, maar tog God se genesende verlossing van die mens se siel” beskryf het. Robin is Saterdag 13 Desember vanuit die St Matthews-kerk in die Keidebees-begraafplaas ter ruste gelê.
Hy laat sy vrou, twee dogters, ‘n seun, ‘n skoondogter Saara, twee skoonseuns, Adnan en Matthew en twee kleinkinders, Sloane en Lennox na. Sy enigste broer, Graham en susters, Cynthia, Enid, Girty en Adelaide word ook nagelaat.









