GEMSBOK-UPINGTON: In Upington en omgewing kom die ware betekenis van die feesseisoen en Kersfees na vore in die jaarlikse tradisie om verskeie kerke se Kerssangdiens te ondersteun en te besoek.
Elkeen is uniek en word gekenmerk deur die ongelooflike hoeveelheid passie en liefde wat lidmate en plaaslike inwoners daarin sit.
Die spesiale atmosfeer lê in hierdie gesamentlike ervaring—om van kerk tot kerk, die verskillende interpretasies te beleef, en die warmte van die Here se teenwoordigheid te ervaar, terwyl inwo- ners die geboorte van Christus saam vier. Dit is hierdie eenvoudige, gedeelde oomblikke wat Upington so besonders maak.
Die Upington Lighuis Volle Evangelie Kerk se tema van die aand was “Immanuel-God Met Ons”.
Immanuel loop soos n goue draad van die grondlegging van die aarde, in die tuin van Eden, en toe Jesus gebore is, opgestaan het, en die Heilige Gees uitgestort is. In al die goeie tye en in al die slegte oomblikke van ons lewens, was en is God altyd daar.
God is die meesterkunstenaar, en ons is Sy kunswerk. Hy gebruik die lewe se ervarings om 'n pragtige, God-gekleurde lewe in ons te skep. En Hy is teenwoordig in dit alles. Immanuel, God met ons.
Maak ‘n knoop in u oor om volgende jaar nie uit te mis nie en die verskeie kerssangdienste saam te geniet. Mag Sy genade, vreugde, vrede en hoop elkeen kragtig en oorvloedig oordek hierdie Kersseisoen, terwyl ons, ons Verlosser en Here Jesus vier. Immanuel, God met elkeen van ons!
- Truandie Louw.









