GEMSBOK-OLIFANTSHOEK: Tannie Martie Lombaard, ‘n geliefde inwoner van ons gemeenskap en in Bergenrus Ouetehuis op Olifantshoek, vier haar 100 jaar op 15 Desember 2025.
‘n Mylpaal wat vir min mense gegun word en nog minder met so ‘n helder gees en warm hart.
Sy is gebore op 15 Des 1925 as ‘n nooi Viviers. Sy is gebore op die Plaas Vlakwater Olifantshoek. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Olifantshoek. Sy wou graag ‘n Soldoedie word, maar het teenkanting gekry, want in daai jare was dit nie betaamlik vir ‘n dame om Weermag toe te gaan nie.
Sy is toe op 19 jaar met oom Louis Lombaard, van die Plaas Vroeggedeel, Olifantshoek getroud - 9 Julie 1944. Hulle het drie kinders uit die huwelik - Douwlina woon tans in Orania, Helena in Bloemfontein en Koos in Kathu.
Na die dood van Oom Louis in 2007 het sy in Bergenrus Ouetehuis gaan woon tot en met 2014. Sy was ook lid van die ACVV vir baie jare en een van die stigterslede van Bergenrus Ouetehuis op Olifantshoek.
Sy het toe vir ‘n paar jaar saam met haar seun en skoondogter deur die land getoer, waarna sy weer in Maart 2021 terug gekom het ouetehuis toe.
Gebore in 1925 het tannie Martie deur ‘n volle eeu se veranderinge geleef - van perdekarre tot slimfone, van posduiwe tot Whattsapp boodskappe. Maar deur alles het tannie Martie nooit haar geloof, haar humorsin en haar liefde vir mense verloor nie.
Tot vandag toe verwelkom sy elke besoeker met ‘n glimlag en ‘n storie van mooi dinge.
Tannie Martie gaan haar grootdag saam met familie en vriende by die Bergenrus Ouetehuis vier.
Die gemeenskap eer haar vir ‘n eeu van liefde, wysheid, hulp en standvastige geloof. Baie geluk tannie Martie, mag dit ‘n jaar vol mooi wees. - Berig: Liebie Beyers









