GEMSBOK-UPINGTON: Proponent Marlon Petro van Springbok VGK-gemeente het onlangs ‘n beroep na die gemeente van Upington aanvaar.
Hy is Saterdag met waardigheid deur die gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk Upington (VGK) ontvang en bevestig as hul nuwe predikant.
Proponent Petro, ‘n boorling van Springbok in die Namakwa- landstreek, is Sater- dagoggend amptelik deur die plaaslike kerk-raad se konsulent ds. Johan Julies aan die gemeente voorgestel
.
Die 24-jarige proponent Petro, is die jongste predikant wat deur die VGK Upington-kerkraad beroep is.
Hy is met groot vreugde en blydskap ontvang, wat voorafgegaan is met ‘n pragtige optog na die pastorie, deur die kerk se jeugbrigade.
Die gade van emeritus ds. Laggie Willemse, het die pastorie se sleutels aan hom oorhandig onder dawerende applous van ‘n groot skaar mense wat die verrigtinge bygewoon het.
‘n Kort besigtiging van die pastorie het gevolg en die gemeente is daarna op middagete getrakteer.
“Ons is vandag baie dankbaar aan ons Almagtige Skepper wat ons gebede verhoor het. Die Here het vandag vir ons ‘n splinternuwe en nát predikant gegee!”, het ‘n gemeentelid op humoristiese wyse in die kerk kwytgeraak.
Nadat verskeie predikante ‘n spreekbeurt gekry het waar hulle die proponent Petro hartlik verwelkom het, het die hoogtepunt gevolg toe die jongman se moeder die toga aan hom oorhandig het.
“Geliefdes in die naam van onse Here Jesus Christus, ons is hier bymekaar om ons broeder, proponent Marlon Clement Petro in sy nuwe amp as leraar van VGK-Upington, in die ring van Upington , aan u voor te stel. Hy is amptelik ons nuwe leraar, ds. Marlon Petro,” het ds. Julies onder groot applous van die gemeente gesê.
* Berig en foto’s: Nick Pretorius









