GEMSBOK-UPINGTON: Pasiënte wat van die week af na drs. Kuys en Conradie se spreekkamer gaan, sal beslis die be-kende gesig van Hester Kruger mis.
Hester, wie sedert 3 Julie 1983 by die praktyk werk, het nou na 42 jaar afgetree. Hester het by oorlede dr. Des Webster begin werk as verpleegkundige en ontvangsdame toe haar kinders, Willie en Annamarie nog op laerskool was. In 1987 het dr Kuys by die praktyk aangesluit en sedertdien werk hulle twee saam. Dr. Kuys het Hester bedank vir haar toewyding, lojaliteit en vriendelikheid deur die jare.
Hester het sedert Julie 1996 ook saam met dr Conradie in Markstraat se spreekkamer gewerk.
Hester sê sy gaan almal baie mis. ‘n Mens raak geheg aan die pasiënte en natuurlik ook jou kollegas.”
Rynette Strydom wat by die rekeninge werk, sê Hester was haar tweede ma, hulle het saam baie lief en leed gedeel.
Marina Henn, die ander verpleegkundige wat saam met Hester gewerk het en ook ontvangs doen, wens haar net die beste toe vir die toekoms, “Leef in die oomblik.”
Hester sê om by die ontvangs van ‘n dokter te werk is “harde” werk.
“Jy moet simpatie en geduld hê. Baie keer sit die ontvangs vol siek mense, dan moet jy almal met deernis ontvang.
“Party mense moet bemoedig word en ander kere is jy saam dankbaar as ‘n persoon gesond word.”
“As pasiënte baie siek is en terminaal raak, loop ons ‘n paadjie saam met hulle. Dis nie altyd maklik nie.”
“Ek sal almal baie mis, maar sien nou uit om saam met my kinders dinge te doen en rustig by die huis te wees. ““n Mens weet nie wat die dag van môre alles inhou nie.”









