Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: Sedert Gerrie Horn van Uap buite Upington, as jong seun begin het om aan motors te werk, het hy nog nooit opgehou nie.
Gerrie het op hoërskool sy hart verloor op ‘n 1958 Ford Prefect en by ‘n paneelklopper op Jagersfontein gewerk om die motor af te betaal.
Dis dan ook daar waar sy basis gevorm is om paneelklopwerk te doen, om enjins oor te bou en om restourasie van ou motors te doen.
Na 23 jaar in die buiteland, het hy drie jaar terug afgetree en is nou voltyds besig om sy ou motors te restoureer.
As dieselwerktuigkundige en meganiese tegnikus het hy in o.a. Tanzanië, Zambië en Ghana vir First Quantem Minerals gewerk wat myne in Afrika, Finland en Australië besit.
Gerrie sê hy het “betyds”afgetree om nog sy lewe te geniet en om sy ou motors te restoureer.


Hierdie stokperdjie is ‘n voltydse werk wat hy baie geniet. Nadat hy in 2012 grond op Uap gekoop het, het hy sy eerste ‘58  Ford Fairlane gekoop, reggemaak en gerestoureer.
Sy voorliefde is die Ford Fairlane karre uit die VSA. Hy het ook twee Ford’s wat in Engeland vervaardig is, maar hulle is baie kleiner as die groot motors uit Amerika.
Sy vloot voertuie bestaan uit: Agt Ford Fairlane’s uit die vyftigs, 1957 Ford V8 Ranchero bakkie, DKW (voorloper van die Audi), Datsun 1200 GX, 1967 Ford Galaxy, F350 Ford bakkie, Ford Cortina (Engelse Ford), Ford Zodiac (Engeland), 65 Customline (reeks voor Fairlane), Studebaker Champ bakkie, Studebaker Silwer Hawk, 1968 C10 Chev bakkie, 1969 Chev Camaro, 1938 Chev Delux, 1939 Chev Delux; 1960 Mazda 360 2-slag bakkie - én daar staan nog ‘n paar ander ou voertuie ook rond.
Dit is ‘n bekvol! Gerrie se gunsteling onder die karre is die Fords uit die vyftigs. Hulle het die mooiste “shapes” en is reg rondom mooi met hul “chrome trimmings”.
Dis vir hom baie bevredigend en ‘n uitdaging om ou motors te restoureer. 
“‘n Mens kry nog al die parte, hoe klein ook al. Ek bestel dit uit die VSA van die Dennis Carpenter fabriek af. Hulle spesialiseer daarin om ou parte te maak,” sê Gerrie. 
“Ek kyk sommer op webtuistes hoe om sekere dinge te doen as ek nie weet nie, want ek probeer alles self doen.” Hy laat “re-chrome” die “bumpers”in Pretoria en laat spuitverf die motors hier op Upington nadat hy al die voorbereiding self gedoen het. Sy seun, Werner, help met die restourasie van die motors.
Baie van die karre wat by hom staan het baie werk nodig. Hy beplan om al die Chev’s en Studebakers te verkoop en wil net met sy Ford’s aangaan.
Sy nuutste projek is die restourasie van ‘n 1957 Ford V8 Ranchero bakkie waarvan die wrak oorspronklik op ‘n plaas in die Senekal-distrik, in die Vrystaat, gelê het. Gerrie was lankal op die uitkyk vir so ‘n bakkie en het die wrak toe by die firma, Van der Merwe & Seuns, in Johannesburg gekoop. 
Volgens Gerrie se kennis is daar slegs drie van hierdie bakkies in Suid-Afrika. Gerrie moes uiteraard baie van die parte uit die VSA teen groot koste invoer, om die bakkie so oorspronklik as moontlik te hou.  Hy vertel dat Emile Krauze, wat ook ‘n lid van die KOMK is en in Olifantshoek woon, uitstekende werk gedoen het om die geroeste panele van die bakkie te vervang. 
Nadat Gerrie die bakwerk self voorberei het, is die spuitwerk deur Gert by TC Paneelkloppers gedoen. Zippers was verantwoordelik vir die stoffeerwerk. Gerrie is nog besig met die laaste fyn afrondingswerk.  Hy is met reg uiters trots op sy nuutste projek en beplan om die naweek van 14 Februarie 2026 hierdie besondere bakkie by die George Oumotorskou uit te stal. 
Gerrie Horn is die lid van die Kalahari Oumotorklub (KOMK) wat waarskynlik al die meeste voertuie gerestoureer het. Hy geniet dit baie om saam met ander klublede uit te ry met sy motors. “Hulle staan nie net in die stoor nie, hulle word gery,” sê Gerrie trots. Die KOMK is opreg trots op lede soos Gerrie wat hul passie vir oumotors so uitleef, met besondere restourasiewerk, op baie skaars voertuie.
As ‘n mens so kyk na al die motors in Gerrie se stoor (terloops, hy het dit spesiaal laat oprig vir sy motors), weet jy sommer dat daar beslis  baie “petrol” deur sy are loop.