GEMSBOK-UPINGTON: Die Groen Skerpioene het die afgelope week klagtes teen verskeie Noord-Kaapse Munisipaliteite vanaf Kimberley, Douglas, Upington, Keimoes en sover as Port Nolloth opgevolg en ondersoek.
Sommige van die klagtes is deur Afriforum gemaak, nadat talle skrywes aan rolspelers en besluitnemers oor die verkillende dorpe se riool en vullisterrein probleme op dowe ore geval het.
Hierdie klagtes sluit onder andere die jare lange, kontroversiële riool-klagtes oor mangate en aflope van riool na die rivier by Dawid Kruiper en Kai !Garib Munisipaliteite, in.
Terwyl talle Noord-Kapenaars die afgelope Paasnaweek met hulle families deurgebring het, moes drie van die Groen Skerpioene se inspekteurs van dorp tot dorp ry om inligting en ‘dokkets’ bymekaar te maak, asook terrein besoeke en onderhoude af te lê.
“Ons is so dankbaar teenoor die inspekteurs vir hulle opofferings en ons plaas nou ons geloof in hulle. Ek glo hierdie span ondersoekbeamptes sal beslis reg laat geskied en uiteindelik sorg dat die besoedeling van ons riviere, omgewings en selfs ondergrondse waterstelsels binnekort gestaak word,” het Werner Strauss, koôrdineerder van Afriforum in die Noord-Kaap Donderdag aan die Gemsbok gesê.
Die beskerming van ons omge-wing is die kern van die werk wat deur omgewingsbestuursinspekteurs (“EMI’s”) uitgevoer word. EMI’s staan ook bekend as “Groen Skerpioene” wat omgewingswetgewing afdwing deur admini-stratiewe en kriminele ondersoeke na ernstige omgewingsmisdade te doen.