GEMSBOK-SPRINGBOK: Die Namakwa uitvoerende burgemeester het ‘n volskaalse ondersoek na die ongeluk wat verlede Maandag op die pad tussen Soebatsfontein en Komaggas plaasgevind het, versoek.
Twee leerlinge en die bestuurder ontvang behandeling by ‘n mediese fasiliteit in Springbok nadat ‘n skoolbus omgeslaan het.
Die burgemeester, Mervin Cloete, het Dinsdag gesê dat hulle “diep geskud en hartseer” is om van die voorval te hoor.
“Berigte van ‘n onpadwaardige bus en swak padtoestande is uiters ontstellend. Die veiligheid van ons kinders is ononderhandelbaar, en enige vorm van nalatigheid is onaanvaarbaar. Diegene wat met die vervoer van ons kinders toevertrou is, het ‘n heilige verantwoordelikheid. Geen ouer moet vir hul kind se veiligheid vrees nie,” het hy gesê.
Cloete het volle aanspreeklikheid geëis en ‘n deeglike ondersoek na die voorval versoek.
“Enigiemand wat bevind word dat hulle ons kinders in die steek gelaat het, moet verantwoordelik gehou word. Ons sal nie rus totdat ons duidelike antwoorde het en ferm optrede geneem word om te verhoed dat meer traumatiese ongelukke van hierdie aard plaasvind nie.
“Ons gedagtes is by almal wat geraak word gedurende hierdie pynlike tyd. Ons prys die nooddienste vir hul vinnige reaksie. Ons doen ‘n beroep op alle bestuurders om veilig en versigtig op ons paaie te bly,” het hy bygevoeg.









