GEMSBOK-BENDALL: Die Noord-Kaapse Provinsiale Inisiasiekoördineringskomitee (PICC) het verlede week ‘n onwettige inisiasieskool wat in Bendall, in die John Taolo Gaetsewe (JTG)-distrik, bedryf word, gesluit en ‘n strafsaak by die SAPD aanhangig gemaak.
Woordvoerder van die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Coghsta), Babalwa Mzambo, het gesê die komitee het die skool Dinsdag geverifieer nadat hulle ‘n wenk ontvang het.
“Geen inisiasieskole was gemagtig om in die JTG-gebied te opereer volgens die goedgekeurde inisiasieskedule vir die huidige seisoen nie.
Met aankoms het die PICC 118 ingewydes gevind, wat met die onwettige skool verbind is. Hiervan was 111 steeds in die induksiefase by ‘n kraal, terwyl die oorblywende sewe na ‘n wettige skool in die Noordweste oorgeplaas is. Voordat die skool formeel ontbind is, is die hoofoperateur deur die spesifieke wettige oortredings geneem wat gepleeg is ingevolge die Gebruiklike Inisiasiewet: (Artikel 26) van die Wet vereis dat alle inisiasieskole behoorlik geregistreer moet wees, met sertifikate wat slegs geldig is vir die spesifieke aangeduide inisiasieseisoen.”
Sy het bygevoeg dat onwettige inisiasiepraktyke gepleeg word indien operateurs nie ‘n geregistreerde inisiasieskool gehad het nie, ‘n ingewyde onder die ouderdom van 16 jaar aanvaar het, nie die vereiste mediese sertifikaat gehad het nie of nie toestemming van die ouer of voog verkry het nie.
“Die operateur is behoorlik in kennis gestel van die oortreding van die bedryf of hou van ‘n nie-geregistreerde inisiasieskool, en die inisiasieskool is met onmiddellike effek ge- sluit. Die PICC herhaal sy verbintenis om te verseker dat alle gebruiklike inisiasiepraktyke in die Noord-Kaap wettig, veilig en met volle nakoming van die Wet op Gebruiklike Inisiasie uitgevoer word, om die waardigheid, welstand en lewens van ingewydes te beskerm,” het Mzambo gesê.









