GEMSBOK-PORT NOLLOTH: Terwyl die provinsie homself gereed maak vir die toestroming van vakansiegangers na ons kuslyn, damme en riviere, het kapteins en duikers van die SAPD-duikeenhede in die Noord-Kaap voorberei, opgelei, verfris en hulself gereed gemaak vir hierdie hektiek tydperk soos besoekers na die water stroom.
Duikers en kapteins van die Noord-Kaap, saam met hul eweknieë van die Vrystaat, het deelgeneem aan ‘n intensiewe oefen-operasie genaamd “Navalis Exercitatio”, vertaal uit Latyn - wat Vlootoefening beteken, om hulle geestelik en operasioneel voor te berei vir enige voorval wat in en op die water mag voorkom.
Patrollering van die grense van die Republiek van Suid-Afrika is van kardinale belang vir die stabiliteit en veiligheid van die land, en dit sluit die kusgrense van die land in.
Die Noord-Kaapse kuslyn strek van die Oranjerivier in die noorde tot die Groenrivier in die suide, en die mees effektiewe manier om hierdie gebiede te patrolleer, is per boot.
Die Provinsiale Hoof vir die Polisie se Nooddienste (PES), brigadier Amicus Alberts, het saam met die Nasionale Duikkoördineerder, kaptein Marilè Wessels, beide teoretiese en praktiese oefeninge in die kusdorp Port Nolloth in die Namakwa-distrik aangebied en gefasiliteer.
Die oefeninge het vaartuigpatrollies, voertuigkuspatrollies, teorie en duikkusbetredings ingesluit.
Die span is vergesel deur die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, en die Provinsiale Hoof vir Korporatiewe Kommunikasie en Skakeling, brigadier Mashay Gamieldien, wat deelgeneem het aan vaartuigpatrollies langs die kuslyn van Port Nolloth.
Die SAPD Duikeenhede sal ook voorvalle van stropery langs die RSA/Namibiese grenslyn en die Weskus voorkom en bestry, asook die onwettige oorsteek deur onwettige/ongedokumenteerde immigrante wat Suid-Afrika binnekom, voorkom.
Die SAPD Waterpolisiëring en Duikdienste bied ‘n gespesialiseerde duikverwante reaksiediens vir verskeie waterverwante noodgevalle, misdaadvoorkoming en ondersoekondersteuning.
Aangesien ons in die feestyd is, sal die hoof fokus wees op die patrollering van damme, riviere en kusgebiede om nakoming van waterveiligheidsregulasies en -verordeninge te verseker, veral tydens openbare geleenthede hierdie feestyd.









