GEMSBOK-UPINGTON:’n Bedrag van R13 miljoen uit die aansuiweringsbegroting sal gebruik word om ’n dispuut met Transnet te besleg - oor skuld wat voortspruit uit die huur van die JW Sauer-gebou in Quinnstraat, Kimberley, deur die kantoor van die premier.
Die kantoor van die premier het in Julie 2023 na die Derek Corns-gebou in Memorialweg verskuif, waar ‘n huurooreenkoms gesluit is vir maandelikse huurgeld van R1,3 miljoen.
Premier Zamani Saul het destyds aangedui dat die Transnet-gebouhuur R1,6 miljoen per maand beloop, met ‘n bykomende gemiddeld van R135 000 per maand wat vir tariewe en belasting gehef word.
Hy het bygevoeg dat die kantoor die byna 60 jaar oue Transnet-gebou van 2015 tot 2023 sonder ‘n formele kontrak beset het.
Saul het gesê dat hulle geweier het om jaarlikse eskalasies van 6,5 persent te betaal - weens die gebrek aan instandhouding en die swak toestand van die gebou. Transnet het R64 miljoen vir die uitstaande betalings geëis.
Die kantoor van die Premier het ‘n verslag laat doen wat bevind het dat die huurgeld te duur was, terwyl die hysbakke voortdurend buite werking was en kabeldiefstal die gebou, wat agteruitgaan ,sonder elektrisiteit gelaat het.
Saul het aangedui dat R174 miljoen nodig sou wees om die strukturele probleme, wanfunksionele toilette en lugversorgers te herstel, en om beroepsgesondheid- en veiligheidsbedreigings by die JW Sauer-gebou aan te spreek.
Die LUR vir Finansies, Ekonomie-se Ontwikkeling en Toerisme, Venus Blennies-Magage, het vandeesweek gesê R13 miljoen sal aan Transnet betaal word. “Ons het Transnet ‘n bedrag van R48 miljoen geskuld na aanleiding van die dis-puut met betrekking tot die ou huurooreenkoms van die JW Sauer-gebou. Ek het ‘n bedrag van R28 miljoen in die aanpassingsbegroting voorgehou, en ons stel ‘n bedrag van R13 miljoen beskikbaar om die terugbetalingsooreenkoms met Transnet te sluit,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat die kantoor van die Premier R313 miljoen uit die provinsiale begroting vir die 2025/26-boekjaar toegeken sal word om sy mandaat na te kom. “Die kantoor van die premier verteenwoordig die masjinerie van die provinsiale administrasie.” Blennies-Magage het aangedui dat die Nasio-nale Tesourie die Parlementêre Dorp formeel as ‘n publiek-privaat vennootskapsprojek (PPP) geregistreer het.
“Ons trek volle voordeel uit hierdie ontwikkeling deur hulpbronne beskikbaar te stel vir die aanstelling van ‘n transaksionele adviseur om ‘n lewensvatbaarheidstudie te doen. Dit sal ons in staat stel om die projek vorentoe te neem na ‘n stadium wat verkryging tot die verwesenliking van hierdie projek behels,” het sy gesê.