GEMSBOK-PRIESKA: Rolspelers, organisasies en inwoners van die Siyathemba-munisipaliteit verwelkom die proklamasie deur President Cyril Ramaphosa, wat die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) magtig om bewerings van wanadministrasie en korrupsie in finansiële sake wat van 2016 tot nou terugdateer, te ondersoek.
Oor die jare het bekommernisse oor die kritieke gebrek aan finansiële toesig binne die munisipaliteit, veral die disfunksionaliteit van die Munisipale Openbare Rekeningkomitee (MPAC), op dowe ore geval.
Hierdie komitee is verantwoordelik vir die ondersoek van finansiële state en ouditverslae en aanbevelings. Dit is ook gemagtig om onreëlmatige uitgawes te ondersoek.
Skaars twee weke gelede het dit tydens die onlangse provinsiale ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aan die lig gekom dat, as gevolg van MPAC se disfunksionaliteit, Siyathemba se opgehoopte onreëlmatige uitgawes tot meer as R366 240 miljoen oor die afgelope vyftien jaar gestyg het.
Die gebrek aan finansiële bevoegdheid in die administrasie en van die MPAC-voorsitters, die weerhouding van finansiële state van die komitee en 'n gebrek aan politieke wil om finansiële onreëlmatighede binne Siyathemba bloot te lê, word vir hierdie disfunksionaliteit blameer. Dit het MPAC se toesigplig verlam.
Daar is reeds in 2018 'n mosie van wantroue (MONC) teen die Speaker ingedien. Waarna herhaaldelik oproepe op die munisipale bestuur gedoen om te help om die komitee weer aan die gang te kry.
“Deursigtigheid rakende die versuim van amptenare om kontant te bank, sowel as die aangaan van twyfelagtige kontrakte, insluitend die drukker- en kopieerkontrak van meer as R3 miljoen en die Inligtingstegnologiekontrak, wat al meer as 'n dekade ongekontroleerd teen 'n minimum koste van R200 000 per maand loop, moet nou onder die loep geneem word,” meen raadslid Wiida Pelster.
Alle nalatenskapsinfrastruktuurprojekte moet ook deeglik ondersoek word. Nalatenskaps- projekte in Prieska en Marydale bly onvoltooid met vordering wat wissel van 40% tot 99% oor vyf stilstaande projekte, terwyl Munisipale Infrastruktuurtoelae (MIG-fondse) uitgeput is.
Dit sluit in die grootmaatrioollyn, pompstasie, reservoir en rioolnetwerke.
Miljoene rande is bestee aan die Prieska Watergedraagde Gravitasierioolnetwerk vir bestaande 472 erwe, in die E’thembeni Plakkerskamp, maar dit bly onvoltooid, met oop slote en sommige slote wat sonder pype gevul is.









