GEMSBOK-STEINKOPF: Polisie hier het op dagga met ‘n geraamde straatwaarde van R7.7 miljoen tydens roetine-patrollies naby Steinkopf beslag gelê.
Volgens die SAPD was lede van die Steinkopf-polisie Woensdagoggend besig met patrollies toe hulle ‘n verdagte voertuig vol bokse agterop gewaar het.
Die polisie het die voertuig deursoek en ongeveer 64.8 kilogram dagga in die bokse ontdek.
Twee mans, albei 33 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem.
Die voertuig is ook gekonfiskeer aangesien dit na bewering in die pleging van die misdaad gebruik is.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklagte van dwelmhandel.
“Hierdie groot sukses herbevestig en demonstreer die SAPD se voortgesette toewyding tot die bekamping van dwelmhandel en ander verwante misdade in die Namakwa-distrik,” het polisiewoordvoerder Ivan Magerman gesê.
“Die waaksaamheid en professionaliteit wat deur die betrokke lede getoon is, het verhoed dat die verspreiding van onwettige dwelmmiddels ons gemeenskappe bereik.”









