GEMSBOK-UPINGTON: 'n Petisie is verlede Maandag (27 Oktober) by die distrikkantore van die departement van gesondheidsdienste oorhandig.
Dit hou verband met die gebrekkige en onvoldoende gesondheidsfasiliteite in die Leseding-en-Louisvaledorp-omgewings. Die petisie is deur Surine Mbata, voorsitter van Wyk 12 namens die woonbuurte van Leseding, Louisvaledorp en Raaswater oorhandig aan die distriksdirekteur van die ZFM-gesondheidsdienste, Max Baketsana.
In die griefskrif word daar melding gemaak oor die erns en belangrikheid van kliniekdienste in daardie agtergeblewe gemeenskappe wat vir hulle 'n groot uitdaging en 'n voortslepende maatskaplike probleem geword het, vir etlike jare.
Baie van die siekmense van Leseding en Louisvaldorp word genoop om die ver afstand na Raaswater se kliniek soms te ryloop vir mediese behandeling wanneer hulle nie vervoer het nie. Vir baie kan die terugtog huiswaarts gevaarlik wees wanneer dit laat in die dag word.
Pasiënte en mense van Raaswater kom eerste en vroeg in die oggend by die kliniek aan om hul medikasie en mediese behandeling te kry. Volgens die griefskrif word daar gebruik gemaak van 'n kerk en huis in Leseding waar mediese dienste gebrekkig is omdat die gebruiklike fasiliteite ontbreek.
In die lig van die basiese tekortkominge waar veral swak ou mense en kleinkinders die slagoffers is, dring hierdie agtergeblewe gemeenskappe daarop aan dat die departement van gesondheid in die ZFM-distrik ernstig aandag moet gee vir die totstandkoming van 'n voldoende gesondheidsentrum. Tydens die vergadering het talle mense met plakkate daar opgedaag om hul ontevredenheid te kom wys.
Plakkate soos "Bou 'n kliniek vir Leseding", "Ons mense sterf oor gebrekkige gesondheidsdienste" en "Help, help, mense sterf!" was te siene in die vergaderingslokaal. Die gemeenskappe van Leseding en Louisvaledorp dring daarop aan dat daar gehoor gegee moet word aan hul griewe en dat hulle 'n antwoord sal kry aan die einde van November-maand. * Berig: Nick Pretorius









