GEMSBOK-UPINGTON: Die Upington-streekhof het Clifford Cloete (32) skuldig bevind en tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die moord op sy moeder, Yvonne Cloete. Die voorval het op 13 Desember 2024 plaasgevind toe die oorledene saam met haar rolstoelgebonde lewensmaat huis toe gekom het.
Toe sy die beskuldigde in sy stiefpa se hemp vind, het sy hom gevra om dit uit te trek.
Die beskuldigde, wat ‘n geskiedenis gehad het van diefstal van kos en klere om sy tik- en mandrax-verslawing te befonds, het geweier. Toe sy moeder die hemp uittrek en buite haar hande gaan was, het hy haar gevolg en haar een keer in die nek gesteek.
Tydens die verhoor het Cloete onskuldig gepleit en beweer dat hy uit selfverdediging opgetree het.
Die Staat het egter, deur die getuienis van vyf getuies, sy weergawe weerlê.
Die hof het sy verweer as vals bo redelike twyfel verwerp en hom aan moord skuldig bevind.
Ingevolge die wetgewing oor minimum vonnisse word lewenslange gevangenisstraf gewoonlik voorgeskryf vir huishoudelike moorde, tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan.
Die hof het sulke omstandighede in hierdie saak bevind en ‘n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf in plaas van lewenslange vonnis opgelê.