GEMSBOK-GROBLERSHOOP: Die SA Munisipale Werkersunie in die Noord-Kaap het gevra dat !Kheis Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie geplaas word - aangesien salarisse sedert Desember verlede jaar nie betaal is nie.
Lawrence Fennie, provinsiale sekretaris van Samwu, het gesê werknemers is in ‘n omsendbrief ingelig dat salarisse weer vir Februarie uitgestel sal word.
“Die munisipaliteit se versuim om sy kontraktuele verpligtinge na te kom het werknemers aan ondraaglike ekonomiese toestande en ontberings onderwerp. Werkers het laas hul salarisse in Desember 2023 ontvang,” het Fennie gesê.
Bou van Ga-Segonyana-skole op ys weens wanbetaling
GEMSBOK-KURUMAN: “Beloftes van meer skole in die verafgeleë plattelandse dorpies van Ga-Segonyana teen 2025, lyk na nog ‘n lugkasteel-droom - gegewe die Noord-Kaapse regering se versuim om op sy sogenaamde prioriteitsgebiede op te tree.”
Dit is verlede week tydens ‘n toesighoudende inspeksie aan die konstruksieterrein van Laerskool Magojaneng bevestig, vergesel deur die plaaslike raadslid, Koketso Paul.
Volgens die Onderwysdepartement se Jaarlikse Prestasieplan vir 2023/2024 - is die totale projekkoste vir die bou van Laerskool Magojaneng R85,654 miljoen.
Die projek het verder ‘n begindatum van 15 Januarie 2023 met ‘n verwagte voltooiingsdatum geskeduleer vir 8 Julie 2024.
Wapens tydens roetine ondersoek gekry
GEMSBOK-VIOOLSDRIFT: Tydens roetine ondersoek by die Vioolsdrift-grens, is daar drie vuurwapens gekry.
Saterdag, 24 Februarie 2024 om ongeveer 00:15, is 'n taxi wat die RSA vanaf die Namibiese kant binne gery het, op pad na Kaapstad, voorgekeer en deursoek. Voordat die polisie die taxi deursoek het, het die bestuurder uitgespring en van die toneel gevlug en die assistentbestuurder en sewe passasiers in die voertuig gelaat.
Toe hulle die voertuig verder deursoek, het polisielede drie vuurwapens onder die bestuurdersitplek ontdek. Dit was in 'n plastieksak versteek. Die assistentbestuur-der en die sewe passasiers is in hegtenis geneem en aangehou.
Watersituasie by Kai !Garib gemonitor
GEMSBOK-UPINGTON: AfriForum se Werner Strauss, die organisasie se koördineerder in die Noord-Kaap, het verlede week ‘n opvolg besoek aan Kakamas afgelê om die watersituasie te monitor.
Dit kom nadat hy die vorige week die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit by die Mense-regtekommissie (MRK), oor die water op Kenhardt, Kakamas en Keimoes - wat nie geskik is vir menslike gebruik nie, verkla.
Die klagte is teen Obakeng Isaacs, die munisipale be-stuurder, ingedien omdat hy versuim het om sy pligte - met betrekking tot die voorsiening van water en sanitasiedienste - teenoor die gemeenskap na te kom.
Swak waterdruk opgespoor
GEMSBOK-UPINGTON: Die Klippunt/Kalksloot gemeenskappe sukkel gereeld met watervoorsieningsprobleme. Dae, weke en selfs maande gaan verby, waar daar swak waterdruk en soms selfs geen water aan die gemeenskappe gelewer word nie.
Ten spyte daarvan dat Dawid Kruiper Munisipaliteit in Februarie 2023 met groot seremonie ‘n sooispit vir die opgradering van die watervoorsiening- en kleiner werke-projek in Leseding Wyk 12, Kalksloot: Wyk 11 en Swartkopdam: Wyk 16 het hierdie probleem sedert November 2023 weer sy kurkdroë kop uitgesteek.








