GEMSBOK-LOUISVALEWEG: Mnr. Josef Isaks, skoolhoof van die Intermediêre Skool Louisvale, het nou na net meer as 41 jaar in die onderwys, die tuig neergelê.
Die atmosfeer by die skool was maar somber en hartseer, want leerders en onderwysers, was baie lief vir hul hoof wat Vrydag, 27 Junie 2025, sy laaste dag as hoof van die skool waargeneem het.
Verskeie departmentshoofde, belangstellendes, ouers en kinders het die afsluiting bygewoon.
Mnr. Isaks het gesê sy tyd as onderwyser en hoof, sal hy altyd koester. Dit was vir so lank deel van sy lewe om kinders te lei, nie net op akademiese gebied nie, maar ook op sportgebied.
Sy gunsteling vakke was dan ook Wiskunde en LO - die outydse LO, waar hy nog kinders geleer het hoe om gimmastiek te doen, sokker, rugby en krieket te speel.
“Ons skool het bekend gestaan as ‘n sokkerskool, maar ek het die kinders hier kom leer rugby en krieket speel,” het mnr. Isaks gesê. “Een van my trotste oomblike op die sportveld was toe ons in 1989 die krieketkampioene was en Franciscus kon wen,”onthou hy trots.
Een van sy drome is dan ook om ‘n sokkerwêreldbeker by te woon of te gaan kyk hoe Manchester United speel.
Dan wil hy ook graag, oor so twee jaar as sy vrou Adelaide, ook afgetree het, Israel gaan besoek. Om ‘n pastoor te wees, is ook sy ander passie.
Dit is ook nou sy ander roeping. Hy is as pastoor georden by die AGS Kerk. Hy is nog jonk genoeg om hierdie roeping van hom uit te leef. Sy plan is ook om sy meestersgraad in Teologie te voltooi.
Josef Isaks is op Straussburg gebore en is die middelkind van sy broers en susters. Hy praat met baie liefde oor sy ouers, hulle het hom altyd bygestaan met liefde en bemoediging.
Hy het op Vaalkoppies grootgeword tot in st. 5 en het in 1992 by Olyvenhoudtsfrif as departementshoof begin skoolhou. Hy was ook adjunhoof en sedert 2002 was hy as skoolhoof aangestel. Hy was sedert die bou van die Intermediêre Skool Louisvale die hoof by die skool.
Mnr. Isaks was nog altyd baie betrokke in die gemeenskap. Hy was onder meer vir 20 jaar die voorsitter van die GPF en was op baie sportliggame en kerkrade. In 2007 was hy ook ‘n Community Builder en vanaf 2000 tot 2007 tesourier van skolesokker op nasionale vlak.
Nou is dit tyd om ‘n tree weg te gee van onderwys, maar dit sal altyd sy eerste liefde bly.