Upington: “Dit was ‘n wedstryd van twee helftes. In die eerste helfte het ons goed gespeel en spel gedomineer, maar in die tweede helfte het ons dissipline ons in die steek gelaat”. Só het die voorsitter van die rugbyklub Sunwolves, Lionel “Pepe” Abrahams, Saterdag se ZFM-ligawedstryd met United op die Unieveld kortliks opgesom.
Sunwolves het United naelskraap met 24-22 geklop en was rustyd gerieflik voor met 17-5. In die eerste helfte het Sunwolves met goeie samespel tussen voor-en agterspelers die oorhand gehad en die span van United onder druk geplaas.
Ná rustyd het die prentjie verander met ‘n goeie terugvegpoging deur United. Sunwolves het onnodige foute begaan en talle strafskoppe afgestaan. United het hul foute goed uitgebuit en het met meer dringendheid gespeel om kort voor die einde byna ‘n gelykop uitslag af te dwing.
Met sowat vyf minute se spel oor, het United se Jemino Swartz naby die pale gaan druk nadat hy pragtig deur ‘n gaping gehardloop het. Die maklike doelskop is egter verbrou wat ‘n gelykop-uitslag sou gewees het.
Sunwolves se volgende liga-wedstryd is op 17 Mei teen Upington Dorp op die Unieveld en United speel op 10 Mei teen Kenhardt rugbyklub in Kenhardt.
* Puntemakers: Sunwolves 24 (17): Drieë: Aldivano Dick, Brandon Jacobs, Trevor Freeman en Shane Beukes. Doelskoppe: Royston Isaacs (2). United: 22 (5): Drieë: Jemino Swartz (2), Leon Olivier en JC Tyers. Doelskop: Curtly May. * In ‘n vriendskaplike voorwedstryd op die Unieveld het die besoekende span van Sishen Upington Dorp maklik met 41-17 verslaan. “Sishen se agterlyn was té vinnig vir ons en dit was vir ons baie moeilik gewees om al die gate toe te stop. Ja, dis ál wat ek op hierdie stadium kan sê”, het Henri Smit, Dorp se afrigter kwytgeraak.