5 September 2025
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Geliefde dokter wat bykans ses dekades as narkotiseur in Klerksdorpse hospitale gewerk het, is oorlede.
Dr Mike de Bruin was 94 jaar oud. Hy is op Sondag 31 Augustus in Wilmedpark Private Hospitaal oorlede nadat hy twee dae vantevore opgeneem is weens ‘n beroerte. Hy het saam met sy vrou in Flamwood Aftree-oord gewoon.
Dr De Bruin was saam met dr Lazar Marcus die eerste twee narkotiseurs wat in Klerksdorp as spesialiste begin praktiseer het in 1961. Sy jongste seun, dr Wouter de Bruin, ‘n oftalmoloog in Kanada, het aan Klerksdorp Rekord gesê sy pa het generasies van jong dokters by die Klerksdorp- en Tshepong hospitale geleer narkose doen. “Hy was ‘n legende wat kort voor sy aftrede ‘n meriete-toekenning ontvang het as langsdienende narkotiseur in Suid-Afrika.’’