GEMSBOK-UPINGTON: “Soos ‘n arend wat bo-oor haar kuikens sweef en hulle op sy vlerke dra, só het God hierdie gemeente van VGK Upington, vir 150 jaar gekoester, bewaar en gesorg.”
Só het ds. Colin Goeieman, ‘n predikant van die Claremont-VGK in die Wes-Kaap Sondag- oggend hier voor ‘n volgepakte gemeente in sy treffende boodskap gesê. Ds. Goeieman was die gasspreker tydens die Verenigende Gereformeerde Kerk se 150ste herdenking Sondag in die plaaslike VGK in Upington.
Ds. Goeieman is ‘n seun van Upington wat hier groot geword het en wat later as predikant na verskeie gemeentes in die Wes-Kaap en Vrystaat beroep was.
“Vir die volgende 150 jaar is daar ‘n toekoms en verwagting geskep vir generasies van bediening, van hoop en van geloof”, het ds.Goeieman in sy boodskap na aanleiding van Deuteronomium 32:1-12 gesê.
Hy het die geskiedenis en die ontstaan van die moedergemeente in Upington kortliks opgesom waar die Here sy getrouheid en sy liefde vir die kerk in soms “droogtetye en moeilike omstandighede gedra en bewaar het. Soms kom skud God ons nessie soos dié van ‘n arend, wat haar kuikens uit die nes skop, sodat hulle kan leer hoe om te vlieg en te sweef”, het ds. Goeieman gepreek. Dit is dan wanneer die kerkgemeente moeilike tye in die oë staar waar hul geloof en vertroue in God getoets word.
Ds. Johan Julies, die konsulent van die Rainbow-gemeente, emititus ds. Dawid Willemse, ds. Frans Fouché van die NG Moederkerk in Upington, ds. H.F. Harper van die Rietfontein-gemeente en ds. H.C. Engelbrecht het hul gelukwensing aan die kerk oorgedra en hulde gebring aan hul voorgangers wat die kerk met geloof en liefde bedien het.
Pragtige koorsang van die VGK Upington-kerkkoor en die Maranatha-mannekoor van Bellville-Suid het die feestelike atmosfeer in die kerk opgehelder. Ná alle verrigtinge is die gemeente op middagete getrakteer.
Berig: Nick Pretorius