GEMSBOK-UPINGTON: Talle Upingtonnners het hulle ontsteltenis uitgespreek, nadat die Dawid Kruiper Munisipaliteit ‘n, “sinnelose verbod” op plaaslike welwillendheid om voetganger-eilande in Upington te verfraai, geplaas het.
Dit volg nadat ‘n senior munisipale amptenaar ‘n groep inwoners gekonfronteer het, wat besig was om ‘n verwaarloosde voetganger-eiland in Nelson Mandelalaan, agter Oranje Noord Laerskool, te transformeer, beveel het om op te hou.
Hy het na wat beweer word, daarop aangedring dat hulle die munisipaliteit sleg laat lyk.
Die verfraaiings inisiatief het ongeveer drie jaar gelede begin toe plaaslike sakeluit en inwoners begin het om die strate en sypaadjies in Upington skoon te maak en te verfraai.
Hulle het hulself destyd die #TrotsUpington beweging genoem.
Hierdie projekte het veral aandag ontvang, nadat toe Ronel Brou, ‘n inwoner van Rosedale, besluit het om onwettige stortingsterreine in die gebied te rehabiliteer en dit in tuine te omskep. Sy het vanuit alle oorde, selfs vanaf DKM en die Noord-Kaapse regering lof ontvang vir die inisiatief, wat gou na ander gebiede versprei het.
Twee jaar gelede het inwoners rondom Rond-omstraat voetganger-eilande besproei en plante op eie koste gekweek.
Die munisipaliteit het onderneem om EPWP-werkers toe te ken om hulle te help, maar dit het nooit gerealiseer nie.
Van hier af het die projek uitgebrei na die hoek van Schröderstraat en Nelson Mandela-laan, naby die ou Gordonia-hospitaal.
Selfs die burgemeester, David Kazi, het kommentaar gelewer oor hoe trots hy op die gemeenskap was en hoe goed hul tuine gelyk het, terwyl hy ‘n toesig-inspeksie in die wyk gedoen het waar hy as raadslid dien.
Die inisiatief het ‘n gevoel van trots in die dorp herstel en help om Upington aantrekliker vir toeriste te maak, sonder enige ekstra koste vir die Dawid Kruiper-munisipaliteit.
“Dit maak geen sin waarom die verfraaiing van voetganger-eilande skielik ‘n probleem is nie, nadat die munisipali-teit hierdie inisiatief die afgelope twee jaar stilswyend goedgekeur het,” meen een van die ontstoke inwoners.
Inwoners is van menings dat Dawid Kruiper nie oor die wil of die vermoë beskik, om te bereik wat die inwoners van Upington bereik het nie.
“In plaas daarvan om inwoners aan te val omdat hulle help, moet Dawid Kruiper hande vat met die gemeenskap en saamwerk om voetganger-eilande reg te maak en die dorp se beeld as ‘n uitstekende toeristebestemming te herstel,”
Die Gemsbok het verlede week na DKM uitgereik vir ‘n verduideliking waarom die sypaadjie verfraaiing skielik gestaak moes word, maar ten druktyd het die munisipaliteit nog geen terugvoer gegee nie.