GEMSBOK-UPINGTON: Terwyl die gemeenskap hier nog gesukkel het om hulself teen die skokgolwe van die wrede aanval op ‘n bejaarde paartjie te staaf, het lede van Upington Speurders en Sigbare Polisiëring, bygestaan deur kollegas van D-skof van die Snelwegpatrollie sowel as LCRC, onvermoeid gewerk om die aanvaller op te spoor en te arresteer.
Die 36-jarige verdagte, Guilliano Giovani Maasdorp, wat vermoedelik verantwoordelik was vir die aanval op die bejaarde paartjie gedurende die vroeë oggendure van 15 November 2025 in Oosterville, Upington, is in hegtenis geneem en het die res van die naweek in die selle by die Upington-stasie deurgebring.
Die span het Maasdorp aangekeer en in hegtenis geneem terwyl hy na bewering in besit gevind is, van items wat hy waarskynlik van die bejaarde paartjie van onderskeidelik 82 en 72 jaar oud gesteel het. Hy is ook in besit betrap van twee messe, die oorledene se beursie en die klere wat die verdagte probeer verbrand het.
Volgens voorlopige inligting het inwoners van die kompleks die woning van die bejaarde paar- tjie in vlamme opgemerk en hulle onmiddellik te hulp gesnel.
Dit is toe dat hulle op die grusame toneel afkom. Die Mullers is na bewering by hul woning by die Villa Vera Maria-kompleks in Oosterville aangeval.
Hennie Muller (82) is in die bed gevind met veelvuldige steekwonde en is op die toneel deur nooddienste dood verklaar, terwyl Debbie Muller (72) met ernstige beserings na die hospitaal vervoer is.
Die nooddienste, die brandweer, was op die toneel om die brand te blus.
‘n Grootskaalse soektog is dadelik van stapel gestuur en het binne etlike ure vrugte afgewerp. Woedende, verpletterde en geskokte inwoners van Upington het Maandag voor die Upingtonse Landdrosshof saamgedrom om hulle ondersteuning aan die slagoffers en hul familie te toon, asook om die hof te vra om nie aan die verdagte borg toe te staan nie.
‘n Saak van moord, poging tot moord, inbraak met onbekende opset en brandstigting sal ondersoek word.
Enige persoon met inligting word versoek om adjudant-offisier Stephen Roos te kontak by 082 495 4615/ 054 337 3400 of SAPS Crime Stop te kontak by 08600 10111, alternatiewelik anoniem op MySAPS-toepassing aan te meld.
Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid behandel word.









