GEMSBOK-SPRINGBOK: Rodney Kritzinger, burgemeester van die Nama Khoi-munisipaliteit, het onlangs aangekondig dat hulle ‘n befondsingsinspuiting van R114 miljoen deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) - vir die opgradering van alle ou pompstasies wat aan die Vaal Sentrale Waterraad behoort - verseker het.
Die Namakwa Streekswatervoorsieningskema is meer as 40 jaar oud en is oorspronklik deur die Departement van Waterwese gebou om die groter Springbok-gebied, insluitend die gemeenskappe van Steinkopf, Bulletrap, Okiep, Nababeep, Springbok, Carolusberg, Concordia en Kleinzee, van drinkbare water te voorsien.
As gevolg van sy ouderdom en ‘n gebrek aan uitgebreide onderhoud oor ‘n lang tydperk, het die skema die einde van sy bruikbare ontwerpleeftyd bereik.
Dit het ‘n toenemend negatiewe impak op gemeenskappe gehad, wat gesukkel het met ‘n erg onderbroke watervoorsiening.
Alhoewel die resultate van die opgradering nie onmiddellik sal wees nie, sal die uitgebreide projek, wat op 1 Maart 2025 begin het, uiteindelik verligting bring van die herhaalde watervoorsieningsuitdagings wat inwoners van Nama Khoi ervaar.
Benewens die belegging in waterinfrastruktuur, het die koalisie-munisipaliteit ook ‘n skuldterugbetalingsooreenkoms met die Vaal Sentrale Waterraad aangegaan om geërfde, nalatenskapskuld te vereffen.
Dit het ‘n baie meer samewerkende werksverhou-ding tussen die waterraad en die munisipaliteit geopen.
Dit sal verder daartoe lei dat die munisipaliteit ou skuld vereffen, soos ons doen met die Eskom-skuldterugbetalingsplan, om uiteindelik meer befondsing vir dienslewering vry te stel.
Die nuwe elektriese netwerk van Komaggas tot Buffelsrivier, wat die gemeenskap van Buffelsrivier ‘n meer betroubare kragtoevoer sal gee, sal die watersekerheid van beide dorpe verder verbeter.
Ek wil inwoners bedank vir hul geduld en uithouvermoë, terwyl ons werk aan die verbetering van volhoubare watervoorsiening aan alle gemeenskappe in Nama Khoi. Water is ‘n basiese mensereg en die koalisie-munisipa-liteit doen ons uiterste bes om dit te beskerm en uit te brei.