GEMSBOK-UPINGTON: Upington: 19 September 2025. Op hierdie dag is ‘n droom bewaarheid toe die rugbymuseum amptelik op luisterryke wyse geopen is. Talle rugby memorabilia kan tans daar besigtig word. Die rugbymuseum baan die weg vir ander sportkodes om ook hul geskiedenis daar by die Kalahari Oranje Museum in Schröderstraat ten toon te stel.
Sover bekend, het die Noord-Kaap en in besonder die sportmense van Upington geskiedenis gemaak wat die eerste rugbymuseum in Suid-Afrika (oud-Saru era) geopen het.
Rugby was in 1946 vir die eerste keer aan Noord-Weskaap bekendgestel deur Pietie Pretorius, ouer broer van die legendariese Pieter James, in die plaaslike gemeenskap bekend as “Boeta Pikes”.
Pietie het onderwys gegee by die enigste hoërskool vir bruin leerlinge in die gebied, die Hoërskool Carlton-Van Heerden en dit was in Upington waar hy ‘n rugbyspan bestaande uit onderwysers en leerlinge saamgestel het. Hulle het vriendskaplike wedstryde gespeel teen De Aar, Carnarvon en Williston. Hierdie dorpe is meer as 400 km van mekaar en die reis soontoe was maar moeilik, is daar van dié spelers verneem wat dit ondervind het. In 1947 is die Thistles Rugbyklub in Upington gestig, gevolg deur Desert Rats Rugbyvoetbalklub in 1948.
Die Orangia Rugby-subunie was daarna gestig met Carlton-Van Heerden, Thistles en Desert Rats as sy lede. In 1949 het die Noordwes-Kaap Rugby-unie tot stand gekom. Die unie het deel geword van die groter rugbyfamilie en is toe geaffilieer met die South African Coloured Rugby Football Board (SACRFB). In 1950 het Noordwes-Kaap aan sy eerste Rhodes-rugby- toernooi in Port Elizabeth deelgeneem.
Dit is hier waar Piet (Boeta Pikes) sy opgang gemaak het as ‘n briljante skrumskakel. Sy vernuftige spel agter die skrum het wyd opslae in die land gemaak. As gevolg van die baie bese-rings wat die leerlinge van Carlton-Van Heerden opgedoen het teen hul swaarder opponente, het die skool ‘n opeklub in 1951 geword.
Die klub se naam het verander na Collegians Rugby Voetbalklub. Te midde van moeilike omstandighede, het rugby in die Noordwes-Kaap verder uitgebrei.
Gereelde kompetisies het in Upington en die breë omgewing plaasgevind waar klubs soos Thistles, Collegians, Rats, Wolves, Swallows, Excelsiors, Rivertons en School Defenders hard meegedeel het om die Sulphilco-trofee.
Hierdie trofee was geskenk deur twee plaaslike besigheidsmanne by name mnre. Sulaiman en Phillips. Noordwes-Kaap Rugbyunie het legendariese spelers opgelewer soos Sydney Ruiters, Johnny Neethling, Sonny Kearns en Piet Pretorius.
In die sestigerjare het spelers soos Deen Mouton (agsteman), Piet van Wyk (slot), Christiaan Oor (stut) en in die jare negentigs het jong staatmakers soos Jesse Clarke (stut), Jacques Titus (senter) en Basil Claasen (flank) hul staal getoon in groot geselskap. Tydens Vrydagaand se verrigtinge het Dennis Adams (skakelbeampte van die rugbymuseum), Monty Engelbrecht (president van die Griekwaland-Wes se rugbyunie), Hilton Oor (wat die NWK-legends geïnisieer het), Johan van Wyk, Gerald Beukes, en Emma Hendricks (CAF) as gassprekers opgetree.
Renald Blaauw, provinsiale bestuurder by die departement van sport en kultuur, het reuse werk agter die skerms verrig.
‘n Span van Kimberley wat met museums gemoeid is, het die finale afrondingswerk by die rugbymuseum kom doen.
‘n Gedenkdiens ter ere van die ontslape rugbylegende Piet Pretorius en oud- NWK-rugbyspelers wat al heengegaan het, is Sondagoggend in die Rooms Katolieke kerk gehou. Tydens die kerkdiens het die “legends” kerse aangesteek ter herinnering aan die gestorwe rugbyspelers.
Berig: Nick Pretorius