RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Oud-soldate (militêre veterane) is 'n groep van die samelewing wat maklik vergete of agterweë gelaat kan word.
Nasionale Diensplig-Veterane (NDP) in Suid-Afrika het dit nog swaarder, aangesien hulle in 'n weermag gedien het wat se politieke aannslag direk in teenstand is met die huidige regering. Hulle word dus gemarginaliseer en word veral finansieel uitgedaag omdat baie veterane van 'n Sassa-pensioen afhanklik is en sukkel om kop bo water te hou.
Daarom is die Veterane Bystand Fonds (VBF) in die lewe geroep - ‘n organisasie wat hierdie toedrag van sake aanspreek. Landswye uitreikaksies word gehou waarna uitsluitlik diensplig-veterane genooi word om aan hulle erkenning te gee en dankie te sê vir die diens wat hulle aan SA gelewer het, veral tydens die Bosoorlog. Hierdie funksies word landswyd heeltemal gratis aangebied deur die VBF en is oop vir alle diensplig-veterane wat diens gedoen het in die Suid-Afrikaanse Weermag voor 1994.
Veterane word bederf met ‘n ete, musiek, inspirerende sprekers, pryse, geskenke en inkopiebewyse om nodige kos of ander benodighede aan te vul. Veterane word uitgenooi om hul weermagstories en -staaltjies te deel en 'n video-aanbieding uit die nasionale diensplig-era voer hulle terug na gedeelde herinneringe wat hulle vandag steeds saambind. Dit gee hulle die geleentheid om kontak te maak met mense wat ‘n soortgelyke geskiedenis het, wat soortgelyke ervarings gedeel het en skep die besef dat nie een van hulle alleen is nie.
Afgesien van die verskaffing van broodnodige fisiese en finansiële hulp, kan die waarde van kameraadskap wat by die funksies ervaar word, nie gemeet word nie omdat `n groot getal veterane oorleef in tragiese isolasie. Sommige veterane ervaar nie slegs isolasie van familie en vriende nie, maar voel ook afgesny van die gemeenskap en verval in depressie.
Die hulp wat aan die oud-veterane verskaf word, bied dan ook die geleentheid om fisies met veterane landswyd in kontak te kom en sodoende kan ‘n databasis opgestel word om bystand te gee aan veterane met spesifieke probleme en behoeftes.
Die VBF poog ook om die behoeftigste veterane in ‘n dorp of streek te identifiseer en mede-veterane wat wel die vermoë het, word gemotiveer om hiérdie veterane by te staan en te ondersteun.
* Die VAF is 'n onafhanklike nie-winsgewende maatskappy, afhanklik van publieke donateurs wat bydra om noodverligting aan diensplig-veterane te bied.
* Alle NDP-veterane word genooi om die plaaslike geselligheid op 11 Junie by Kockstraat 153 (Nederduitsch Hervormde Kerk Rustenburg-Suid) by te woon. WhatsApp/SMS jou naam, nommer, ID en "Rustenburg" na 073 868 0781 om jou gratis plek te bespreek. (Om te kwalisfiseer vir 'n R500 Checkers-geskenkbewys, neem jou ID en Sassa-kaart saam.)