Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sport News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Met my hand op my hart sing ek saam aan Nkosi Sikelel' iAfrika. 
Die passie, rou emosie en vasbeslotenheid wat op die Springbokke se gesigte geëts is, voel ek in my eie binneste en wanneer die fluitjie blaas, bruis my eie (groen) bloed deur my are.
Ek was maar net 'n dogtertjie toe Gerhard Viviers my begin meevoer het met sy rugbykommentaar. Gerrie Germishuys, Gerald Bosch, Morné du Plessis, Jan 'Boland' Coetzee en Moaner van Heerden het soos familie gevoel, want hul name het in vele gesprekke in my ouerhuis opgeduik - siende dat ek vier ouer broers gehad het wat feitlik vir rugby gelewe het. 

Maar min vorige wedstryde kan vir my opweeg by dié een van die afgelope Sondagaand.
Die Franse, wat natuurlik ook vanjaar se gasheerland is, het binne die eerste vier minute van die wedstryd klaar sewe punte op die telbord gehad. 
Aangevuur deur die grootste gros van die ongeveer 80 000 mense op die pawiljoen, het die Franse Hane geen einde gehad nie en vir byna elke beweging van die Springbokke 'n antwoord - en 'n teenvoeter - gehad. 
Die hele wedstryd was deurentyd op die spreekwoordelike mespunt, maar toe daardie klein fenomeen, Cheslin Kolbe storm toe die Franse se nr 10, Thomas Ramos 'n strafskop pale toe stuur en Cheslin die bal uit die lug foeter, kon Suid-Afrikaanse ondersteuners hoop begin proe. 
Oomblikke voor rustyd is die Springbokke egter met 'n geelkaart gestraf en einste Ramos het vir 'n ekstra drie punte gesorg sodat die Franse kleedkamers toe is met 22 punte teenoor die Bokke se 19. 
Vir die grootste gedeelte van die tweede helfte het die Hane koning gekraai, maar met skaars 14 minute oor, het ysterman, Eben Etzebeth sy lang lyf verder gestrek vir 'n drie. Handré Pollard het met die doelskop geslaag en 'n bietjie later ook met 'n strafskop. Met die telling op 29 vir die Bokke en 28 vir die Hane, het elke, liewe Suid-Afrikaanse ondersteuner waarskynlik die laaste drie minute om gebid en gejubel toe die eindfluitjie blaas.
Nou is daar 'n paar dae oor om senuwees tot bedaring te bring tot ons dié Saterdagaand teen die enigste Noordelike Halfrondspan wat in die kompetisie oor is, Engeland in die halfeindstryd uitdraf om ons plek in die finaal te boek. En daardie Webb Ellis-trofee vir 'n rekord vierde keer Suid-Afrika toe te bring. Die wedstryd skop om 21:00 af.
* Die ander halfeindstryd, die tussen die All Blacks en Argentinië, word Vrydagaand om 21:00 beslis.