RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan ’n eredoktorsgraad toeken aan die Springbok-hoofafrigter en voormalige SA Rugby se Direkteur van Rugby, Johan “Rassie” Erasmus, wat Suid-Afrika gehelp het om die Rugby Wêreldbeker te wen.
Die NWU Raad het die besluit tydens hulle gewone vergadering op Donderdag 16 November 2023 goedgekeur. Die versoek vir die toekenning van die graad Philosophiae Doctor (Honoris Causa) in Afrigtingkunde, is deur die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe ingedien. Die eredoktorsgraad gaan aan Erasmus toegeken word ter erkenning van sy innoverende en buitengewone bestuur van die Springbokke tydens hulle oorwinnings in 2019 en 2023 se Wêreldbekertoernooie, sy besondere posisie in die internasionale rugby-afrigtersarena, sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit, en sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid.