GEMSBOK-SPRINGBOK: Groot hartseer en skok heers in Namakwaland na die onverwagse dood van n mynbestuurder by Kleinzee.
Johan van Rooyen het Saterdagaand in ‘n gru-ongeluk gesterf op die Eselsfonteinpad tussen Springbok en Buffelsrivier.
Die bakkie waarin hy en sy vriendin gery het, het die pad verlaat en in ‘n klofie beland, het motoriste wat op die ongeluk afgekom het, laat weet.
Hierna het die voertuig aan die brand geslaan en het Van Rooyen doodgebrand. Die forensiese-, paramediese afdeling en polisie, was op die toneel, maar kon hom nie red nie.
Sy vriendin, Clarissa Crafford, is na die hospitaal, geneem, het ‘n kennis aan die media vertel.
Volgens inwoners, op wie se plaas die ongeluk gebeur het, was daar twee ontploffings hoorbaar, voor die voertuig begin brand het.
Motoriste wat die pad gereeld gebruik vermoed dat die sonlig die bestuurder verblind het en beheer oor die bakkie moes verloor het.
Veronica van Dyk, was geskok oor die ongeluk en het haar medelye aan Van Rooyen se naasbestaandes uitgespreek. Van Dyk is ook betrokke by Holgoun Mining, by Tweepad, Kleinzee.
Terwyl medelye instroom het vriende en sy kollegas hom beskou as ‘n gemaklike persoon met begrip vir andere.
Tommy Diergaardt het gesê: “Hy was ‘n goeie leier en kollega wat altyd met respek met ander mense gepraat het. Ons sal hom mis. Sterkte aan sy familie en kollegas, nog werksaam by die Holgounmyn.” Ander het genoem dat Van Rooyen ‘n wyse man was wat nie sommer sy stem bo die van sy werkers verhef het nie.
Dié myn het ‘n tyd gelede begin om diamante van die ou De Beersmyne te myn en het groot planne om werkloosheid in die Kleinzee-area te probeer bekamp. Holgoun Mining en Melki Mining Proprietary Ltd val onder die Kleinzee Holding-konsortium wat in 2023 die Buffels Mariene Mynregte by die De Beersmyne (Namakwaland Afd) oorgekoop het. ** deur Isaac Cloete