GEMSBOK-UPINGTON: Op 30 Julie het ‘n groep mense van die Millenium-plakkersgemeenskap ‘n griefskrif aan die Dawid Kruiper Munisipaliteit oorhandig wat tot op hede nog nie beantwoord is nie. Daar was aan dié mense belowe dat hulle binne sewe werksdae terugvoering sou kry.
Die memorandum of griefskrif gaan rondom die behui- singsprobleme wat ontstaan het nadat ordentlike behuising aan die gemeenskap van die Rosedale se Wyk 15 deur die munisipaliteit belowe is.
“Daar was huise aan ons mense belowe waarvan daar tot vandag toe niks gekom het nie”, het raadslid German Gewers aan ons meegedeel.
Daar word tans hop- huise met steen gebou wat alreeds ‘n goeie aanduiding is van die daadwerklike en goeie vooruitgang in daardie wyksarea. “Dit is vir my gemeenskap ‘n goeie inspuiting van menswaardigheid”, het Gewers aan ons meegedeel.
Rita Camu, ‘n huis- vrou van die gebied sê daar word meer aandag gegee aan plakkerskampe soos Vergenoeg, De Wee Valley en Westerkim wat maar onlangs ná Millenium ontstaan het. “Ons soek ons huise. Dis ál wat ons wil hê”, het sy gesê.
Volgens Elise Maasdorp wat die optog na die munisipale kantore gelei het, is daar sedert 2017 vir drie konsepte om behuising aansoek gedoen “maar van dit het net dadels gekom. Van ons ou mense wat só lank gewag het vir ‘n ordentlike huis, is al onder die grond”, het Maasdorp gesê.
Nog ‘n inwoner wat al meer as twintig jaar daar woon, Magereth Raats (48) het haar teleurstelling en frustrasie uitgespreek oor DKM se leë beloftes. “Ons is móég vir die munisipaliteit wat nie aandag gee aan ons regte en behoeftes nie. Die Here slaap nie vir hulle nie, dis seker. Hulle (DKM) bedrieg ons. Daar word niks aan ons saak gedoen nie”, het Raats gesê.
Die memorandum, vergesel met talle handtekeninge, is aan die munisipaliteit op 30 Julie oorhandig en daar sou binne sewe werksdae terugvoe- ring van hul kant gewees het aan die plakkersgemeenskap van Millenium. Ons trek nou al by September-maand en steeds is daar nie geantwoord op hul griefskrif nie. Volgens die DKM se media-woordvoerder, Patrick Williams, het hulle ‘n memorandum ontvang en onderteken.
‘n Persverklaring sal eersdaags deur die munisipaliteit uitgereik word.
“Dit is teleurstellend dat daar sedert 30 Julie geen terugvoering van die Dawid Kruiper Munisipaliteit aan die Millenium-plakkersgemeenskap van Rosedale gemaak is nie. Die saak oor behuising tussen die munisipaliteit en die betrokke inwoners sloer nou al vir baie jare lank en steeds is daar nie ‘n oplossing gevind nie, het mnr. Nick Pretorius, ‘n vryskut joernalis gesê.
“Een aspek wat pla is dat hul griefskrif nie binne die beloofde sewe werksdae beantwoord is nie. Die oënskynlik oordrewe beloftes van “ons sal binnekort terugkom na julle” verdamp so gou soos water op ‘n bloedige warm dag! Die inwoners van Millenium verdien egter ook die respek van DKM omdat hulle deel is van Upington se gemeenskap maar hul “roepstem” is soos een in ‘n dorre woestyn. Dié patroon van leë beloftes dui op ‘n gebrek aan gemeenskapswil om ons arm gemeenskappe uit hul benarde situasies te help.
“Wat DKM betref, is getroue en goeie leierskap van kardinale belang om weer vertroue in ons gemeenskap terug te bring. Dit is tog die munisipaliteit se beleid om goeie verhoudinge en volhoubare dienste aan ons plaaslike gemeenskap te verskaf. My vertroue en hoop is dat ons munisipaliteit ernstig sal wees in sy strewe om vir elke inwoner van ons mooi dorp ‘n menswaardige bestaan sal skep,” het Nick Pretorius afgesluit.