GEMSBOK-UPINGTON: Die Upingtonse gemeenskap sal hierdie week die verbintenisse wat deur die Dawid Kruiper-munisipaliteit gemaak is om sanitasieverwante menseregteskendings in Upington aan te spreek, met opgehoue asems dop hou.
Nie net omdat groot dele van Dawid Kruiper munisipaliteit se kerrndorp na rou riool stink nie - maar omdat die munisipaliteit tot Vrydag 31 Oktober gegee is om verslag te lewer oor al die menseregteskendings waaraan hulle hulself skuldig gemaak het.
Die munisipaliteit het - in opdrag van die MRK - hierdie week die plaaslike sakeman, Philip Bornman, vergesel na die terrein van langdurige rioollekkasies en -blokkasies in Upington, wat ‘n stroom deur die dorp uitgekerf het en in die Oranjerivier beland het.
Dit volg op ‘n direkte opdrag van dr. Henk Boshoff, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se provinsiale ondersoek, om aandag te gee aan die skending van inwoners se regte op ‘n skoon en veilige omgewing.
Tydens die verhoor het dr Ntoba gesê daar is ‘n voorsorg maatreël vir riool oorstromings by spesifiek die Kalahari Mall en dat daar “geen lekkasies huidiglik meer is nie”. Hy het voortgegaan om te sê die verstoppings in al die woongebiede word aangespreek - maar herhaal hulself as gevolg van vandalisme, vette en vreemde stowwe in die sisteem ens.
Die rioolprobleme in Dawid Kruiper raak talle besighede en huishoudings. Na jare se pogings om die munisipaliteit te kry om ‘n volhoubare oplossing vir die rioolkrisis te implementeer, hoop inwoners dat hernieude druk op die munisipaliteit deur die SAMRK lank verwagte resultate sal lewer.
Die bestuur van die emmertoilette sal ook voortaan fyn dopgehou word, wat ‘n verbintenis deur die Munisipale Bestuurder, mnr. Elias Ntoba, insluit om te verseker dat emmertoilette ten minste een keer per week leeggemaak word. Die langdurige vertragings in die verwydering maak ‘n ernstige inbreuk op die waardigheid van inwoners.
Rdl Flip van der Steen, een van die klaers tydens die verhore van DKM voor die MRK, sê volgens munisipale jaarverslae het die aantal huis-   houdings wat emmertoilette gebruik, toegeneem van 3049 toilette in 2021/2022 tot 4875 in 2023/2024. 
Aangesien emmers steeds toeneem ten spyte van ‘n verbintenis deur die regering om hierdie toilette uit te roei, sal ons die MM vra om die raad ‘n plan voor te lê om alternatiewe sanitasie aan die huishou- dings te verskaf, soos ook deur die SAMRK opdrag gegee is.
Hy sê raadslede sal verder ‘n mosie wat ons meer as ‘n dekade gelede ter tafel gelê het, her-indien, waarin gevra word dat emmersanitasie gelei word deur ‘n behoorlik beplande, gedokumenteerde en gepubliseerde skedule en dat die minimum standaard vir basiese sanitasiedienste nagekom word. 
Dit sluit in die voorsiening van gepaste gesondheids- en higiëne-opvoeding, sowel as die voorsie- ning van toilette wat veilig is, privaatheid en beskerming teen die weer bied, goed geventileer is, reuke tot ‘n minimum beperk en die maklike toegang en uitgang van vlieë en ander siektedraende plae voorkom.
Inwoners van Upington verdien dit om in ‘n omgewing te leef wat vry is van rioolbesoedeling, en dienslewering te ervaar wat nie hul gesondheid en waardigheid in gevaar stel nie.
 
																					







