GEMSBOK-UPINGTON: Flip van der Steen,’n raadslid van die Dawid Kruiper Munisipaliteit sê hy is bekommerd dat Dawid Kruiper munisipaliteit se besluit om die regulering van gevestigde snoepwinkels te verslap, uiters onregverdig is en waarskynlik die huidige gebrek aan bestuur en polisiëring van snoepwinkels in die Upington-gebied sal vererger.
Volgens die nuwe beleid hoef snoepwinkels groter as 25 vierkante meter, wat voor 1 Augustus 2025 gestig is, nie aan hersoneringsvereistes te voldoen om die eiendom van residensiële na sakegebruik te verander nie.
Ongeag vorige nie-nakoming, sal hulle vrygestel word van enige stappe teen hulle en mag hulle voortgaan om te werk sonder ‘n hersoneringsaansoek, ten spyte van hul grootte.
In teenstelling hiermee moet nuwe snoepwinkels, wat vanaf 1 Augustus 2025 gestig is, aansoek doen vir hersonering as hulle groter as 25 vierkante meter is.
Dit is bevooroordeeld, skep dubbele standaarde en sal lei tot ‘n dubbelsinnige administratiewe en regulatoriese proses.
‘n Goeie voorbeeld is die goedkeuring van ‘n 200 vierkante meter-winkel in Mier.
“Die Speaker beskerm hierdie winkel heftig teen gevolgebestuur - op grond daarvan dat daar geen formele winkelsentrum in die gebied is nie.” beweer Van der Steen.
Hy sê verder “Behalwe dat dit die polisiëring van winkels en nakomingsafdwinging bemoeilik, sal die beleidswysiging wetteloosheid vererger in ‘n sektor wat reeds geteister word deur die verkoop van vervalde en onveilige voedsel, alkohol en onwettige items, soos dwelms.”
Van der Steen voer ook aan dat diegene wat voldoening aan hersoneringsaansoeke ontduik het, verder aanspreeklikheid sal vryspring, terwyl eienaars van nuwe winkels gediskrimineer sal word.
“Hulle kan ook in die versoeking kom om die onlangse bepalings te misbruik deur die waarheid oor hul besigheid se aanvangsdatums verkeerd voor te stel, om hersoneringsaansoeke en hoër eiendomsbelasting te vermy.”
Hy is van mening dat alle winkels groter as 25 vierkante meter vir hersonering moet aansoek doen.