Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

School News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: Juffrou Madelein May van Hoërskool Upington, is verlede week skielik oorlede.
Haar troosdiens was die naweek, in die saal van die skool waar sy 32 jaar gelede, begin klasgee het as Afrikaanse onderwyseres. 
Na die diens het kollegas en vriende huldeblyke aan Madelein voorgelees. Lesley Swart het vertel dat Madelein altyd die klasse waarin sy gewerk het, met helder kleure geverf het. Wanneer sy dan weer, na ‘n paar jaar, na ‘n ander klas moes verskuif, is die kleur weer toegeverf met ‘n vervelige beige kleur van al die klasse. Maar wanneer die son op die mure skyn, kom die kleure – oranje, blou of geel, subtiel deur – en dis die nagedagtenis van Madeleine.


Daar is verwys na haar betrokkenheid by die ATKV en veral die skool se Kultuurdiere-tak, wat onder haar leiding so uitgestyg het. 
‘n Mens kan aangaan om baie oor Madeleine te skryf, maar Len Fourie se  huldeblyk wat hy ‘n paar dae na haar dood op Facebook gesit gesit het, het haar wese vergestalt.
Hy skryf: 
Het jy al iets gehad wat jy geweet het jy moes doen, maar net nooit die tyd gevind nie, altyd nog ‘n verskoning gehad en dan op ‘n Sondagoggend wanneer jy staan en aantrek in jou kamer vir kerk, maak jy jou FB oop, jou hart ruk en jy sien dat dit te laat is. 
Hierdie is so ‘n verhaal en dit is nie meer die een wat ek aanvanklik in my kop geskryf het nie, want een van die hoofrolspelers het ons heeltemal te vroeg verlaat en ek moes dit aanpas.
Ek en Elmanda sit sowat ‘n maand terug by Karine Stolper se dansskool se konsert, heel voor in die saal, en ek verwonder my aan elke kind wat die verhoog betree se talent, hul passie vir dans, hoe hul hul liggame omvorm en aanpas by die musiek en die talent wat voor my oë openbaar word in elke kind se hande, gesig en voete. Ek is totaal meegevoer en terwyl die aand aangaan en ek ‘n absolute toeskouer is in ander mense se uitleef van kuns en talent, wonder ek wat is dit wat spesifiek ‘n gemeenskap maak werk? 
Ek kyk terug in die saal en sien honderde gesigte in die ligte van die verhoog wat net soos ek totaal gefassineerd is, wat vir elke kind hande klap asof dit Gene Kelly en Fred Astaire self is wat die verhoog betree. Ek voel dit, ek beleef dit, ek weet hierdie is wanneer ‘n gemeenskap werk en wanneer kinders beter uitstap uit die saal as wat hul ingekom het, dis wat ek glo die Vader wou gehad het ons met kinders moet bereik. 
My kop dwaal verder en ek besef dat dit wat ons daar beleef, die sukses, die passie, die liefde wat jy kon aanvoel, alles is as gevolg van die passie van mense soos Karine Stolper. My kop dwaal verder en ek dink aan die passie van vroue in ons gemeenskap wat maak dat dinge werk, wat maak dat kinders meer bereik as wat hul ooit gedink het hulle in staat is, vroue wat maak dat ons gemeenskap saam funksioneer by sport en kultuurdae en dat Upington ‘n plesier is om in te woon en te werk. Ek besluit daar en dan dat ek iets moet skryf om die vroue van ons gemeenskap te bedank vir die ongelooflike rol wat hul speel, vroue soos Madelein May wat op my en Elmanda se lewe so ‘n impak gemaak het en iemand wat moet weet hul word waardeer. 
Ek skryf dit nooit nie, tot my absolute spyt en ek leer ‘n dure les met jou dood, want ons is nie veronderstel om mense op hul grafstene te besing nie, nee ons is veronderstel om mense te besing terwyl hul leef. 
So, liefste Madelein May, hierdie is vir jou, want ek het versuim om te skryf dit wat ek moes geskryf het toe jy geleef het en mag jou familie, jou kinders en jou ongelooflike man iewers in die toekoms berusting vind in die wete dat jy merkwaardig was, dat jy lewens aangeraak het, mense se uitkyk verbeter het op die toekoms en dat jy persoonlik my hart en menswees raakgesien het. Daar is niks mooier in ‘n mens wat jou raaksien en waardeer nie en jy het baie van daardie skoonheid gehad, die skoonheid van die hart wat regtig saak maak. 
Jy het die absolute ongelooflike talent gehad om met jou oog dwarsdeur ‘n kind te sien, om te weet waartoe iemand in staat is en jy het verder gegaan as enige iemand anders om dit te bereik. Jy het met jou passie vir kultuur, vir die lewe, vir mense, net eenvoudig voortgestoom en nooit toegelaat dat iets in jou pad staan nie. Jy het altyd gelees wat ek skryf en moeite gedoen om of te beaam, aan te las of self iets absoluut merkwaardig kwyt te raak. Jy het jou unieke en pragtige skryfstyl gehad en jy kon iets verwoord soos net jy kon en ek dink nie ek het dit vir jou ooit ordentlik verwoord nie. 
So liefste Madelein, my trane vloei vir jou en jou verhaal leef voort in ons lewens, jou wonderlike kinders en ongelooflike man wat nou sonder jou die pad moet stap. Hulle is stukkend sonder jou en weet dat jou liefde vir almal rondom jou soos ‘n brandende kers uit die Oranjerivier vir altyd sal wees, want jy het ‘n lig geskyn in elke mens se lewe waar jy ingestap het. Jou verhaal is nie klaar nie en die duisende kinders wat se lewens jy aangeraak het, dra jou brandende kers vorentoe en jou lig sal vir altyd skyn in hul lewens. Madelein, jy het gemaak dat die gemeenskap rondom jou werk en dat almal waarmee jy te doen gehad het, se lewens beter was nadat jy in hul lewens ingestap het. Jou liefdesverhaal leef voort in ons harte en menswees en jy was geliefd op hierdie aarde, net soos jy was.
 * L