GEMSBOK-UPINGTON: “Ons sal ernstig moet gaan kyk wat vandag (Saterdag) verkeerd gegaan het met die spel wat ons gelewer het. Ons was nie op standaard en die onnodige foute wat ons begaan het, het Dorp in staat gestel om die drieë in te ryg”, het die spanbestuur verklaar. So skryf Nick Pretorius, vryskut sportverslaggewer oor die afgelope naweek se wedstryd tussen Upington Dorp en United.
Dorp het Saterdag op die Eilandveld ‘n reuse telling van 77-0 teen ‘n lustelose United-span in hul tweede ZFM-ligawedstryd opgestapel en in die proses 11 onbeantwoorde drieë met reëlmaat ingeryg.
Uit ‘n toeskouer-oogpunt was dit beslis ‘n baie eensydige wedstryd wat hulle aanskou het.
Sewe van Dorp se drieë is uit gebroke spel behaal. United se verdediging in sy agterlyn was skokkend en Dorp kon na willekeur die bresse slaan.
Daar was tye waar United hard probeer het om Dorp se doellyn oor te steek, maar die span se samespel het hulle telkemale in die steek gelaat. Ná ‘n goeie beweging het hul balbesit verlore gegaan en dan het Dorp die omgekeerde besit gehad om die drieë met reëlmaat in te ryg. “Hierdie wedstryd was ‘n laagtepunt in ons klub se bestaan en ons sal ons vinnig moet regruk en terugkeer na die tekenbord”, het ‘n erg teleurgestelde spanbeampte kwytgeraak.
* Dorp se elf drieë is gedruk deur Wilco Visagie (3), Sephe Mzebenzi (3), Sipho Livingue (2), een elk deur Cobus van Niekerk, Maxwell Smith en Rhozwin Scott. Cobus van Niekerk (7) en die plaasvervanger skrumskakel Connie de Jager (4) het met die doelskoppe geslaag. * Berig: Nick Pretorius