Sjoe! Dit was byna ‘n groot teleurstelling vir die spanbeamptes en die spelers van Upington City Sondag hier op die Dicky Jacobs-stadion. Groot was die verligting nadat die tuisspan die gedugte Highbury van die Oos-Kaap met 1-0 getroef het in ‘n Motsepe Foundation Championship-ligawedstryd, berig Nick Pretorius.
Die tuisspan mòès dié wedstryd wen om nie gerelegeer te word nie. Sodoende behou Upington City sy deelname aan die gewilde MFC lewendig vir die 2026-sokkerseisoen.
Vroeg in die vyfde minuut van die wedstryd is Highbury voor sy doelhok vir ‘n handfout gestraf en Givemore Khupe het die beslissende doel aangeteken (1-0). Dit was ook die rustydtelling. In die tweede helfte het Upington City met hegte verdediging die besoekers weg van hul doelhok gehou. Albei doelwagters, Bongani Mpandli (UC) en Alessandro du Plessis (HB) het met briljante keerwerk die dreigende doele weggehou van hul doelhokke. Toe die skeidsregter die eindfluitjie blaas, was die vreugde en groot verligting op die wenspan se gesigte duidelik sigbaar. * Cape Town Spurs wat verlede Sondag met een elk gelykop gespeel het teen Hungry Lions is Sondag in Durban na die relegasie-sone gestuur nadat hulle hul wedstryd teen Durban City met 1-0 verloor het. Durban City is vanjaar die 2025-kampioene. Upington City eindig 12de op die MFC-ligapuntestand en Hungry Lions beklee die 13de plek.